Evolusioniste kap terug

Updated: Dec 8, 2020

‘n Reeks vooropgestelde idees. Dit is hoe Dr. Jurie van den Heever se repliek in die Rapport van laas week opgesom kan word. Hy beweer dat die kritiek teen Du Toit ‘n gebrekkige insig toon van kennis oor die Bybel en ‘n fundamentalistiese interpretasie openbaar. Vanuit die konteks kan afgelei word dat Van den Heever slegs vereis dat ‘n persoon die Bybel glo vir daardie persoon om as “fundamentalisties” beskou te word.


Van den Heever se repliek toon ‘n misverstaan ten opsigte van die kritiek van sy - en Du Toit se siening. Die aanvanklike kritiek van hulle wêreldbeeld is nie direk gebaseer op die Bybel nie, maar eerder op hulle eie voorveronderstellings, wat onder andere sêgoed bevat soos dat die mens 'n onvoorspelbare brein het en dat die mens ‘n voortvloeisel van evolusionêre ontwikkeling is. Die gewig van die aanvanklike kritiek teen hul siening lê dus daarin dat hulle wêreldbeeld op grond van hulle eie voorveronderstellings self-weerleggend is. Dit is wat “interne kritiek” genoem word of ‘n vorm van reductio ad absurdum van ‘n wêreldbeeld.


Die laasgenoemde is egter ook ‘n Bybelse beginsel soos Van den Heever onwillekeurig uitwys in sy verwysing na Spreuke 1:7 en 1 Timoteus 6:20-21. Van den Heever beweer dat die Bybel lukraak en in isolasie aangehaal is. In sy poging om dit te demonstreer verwys hy na dié twee tekste wat blykbaar in stryd is met mekaar. In 1 Timoteus waarsku Paulus vir Timoteus teen ‘n spesifieke soort kennis wat valslik “kennis” genoem word. Dit is hierdie kennis wat in kontras is met die geopenbaarde Woord van God en wat ‘n persoon weglei van die geloof af. Dit is hierdie “kennis” wat Du Toit en Van Den Heever aanhang en nie die kennis gevorm met vrees vir die Almagtige Skepper van hemel en aarde nie. Die aanvankilke kritiek wys dus hul valse kennis uit en beklemtoon dit. Ek volg Paulus wat leer in Kolossense 3 en Spreuke 1 dat alle skatte van wysheid en kennis omsluit is in Jesus Christus.


Dit is teen hierdie agtergrond dat gesien kan word dat Van den Heever se repliek van die onderwerp af is. Enkele sinne van die reaksie wat gebied was het geraak aan die interne kritiek teen Du Toit se anti-Christlike (evolusionistiese) wêreldbeeld. Die rede daarvoor is eenvoudig, daar is geen antwoord nie. Hoe kan Du Toit en Van den Heever van hul egosentriese verknorsing ontsnap en enige kennis begrond, gegewe hulle wêreldbeskouing? Al wat die ongelowige te doen staan is om te probeer aanval omrede hulle nie kan verdedig nie. Daar word volgehou om hulle posisie as feitlik en waar vir die hoorder aan te bied, sonder om in ag te neem die begronding van kennis en die logiese implikasies van hulle anti-Chirstelike sienings.


Daar word graag verwys na “feite” (Homo Naledi en “ontwerpfoute” in die mens) asook “bewese navorsing”, maar wat is die voorveronderstellings wat na die tafel gebring word met hierdie denkrigting? Die feite word altyd geïnterpreteer deur die heersende wêreldbeskouing en ons bevind onsself nou juis in ‘n wêreldbeskouings-oorlog. Voordat gekyk kan word na die “feite”, moet die vraag oor wat die heersende wêreldbeskouing is beantwoord word, dit is op hierdie vlak wat tans gereageer word. Die Christen sal alle feite interpreteer deur die lens van die openbaring van die Een wat nog van die begin af daar is en die ongelowige deur sy egosentriese posisie wat homself as skepper beskou. Die Bybel leer ook dat die mens se verstand van nature in stryd is met die kennis van God wat deur Hom geopenbaar word in die natuur. Dit is om die rede dat die mens versigtig moet wees om sonder God se openbaring in die Skrif om te gaan met die “feite”. Die mens soek vanweë sy oorgeërfde sondige natuur verduidelikings wat God uit die prentjie laat, want die mens wil so graag skepper wees en nie die skepsel nie. Die mens dien of God in die beoefening van wetenskap, of ‘n ander god.


Van den Heever het homself wel in ‘n mindere mate by die aanvanklike kritiek betrek deur te beweer dat geloof in ‘n Opperwese nie ‘n voorvereiste is vir ‘n morele bestaan nie, maar dit mis egter die punt van die kritiek teen Du Toit en weerspreek ook Du Toit se skrywe. Die kritiek was nie dat ongelowiges moordenaars word wanneer die Christelike geloof verlaat word nie (weens God se algemene genade), maar dat daar geen wêreldbeeld is anders as die Christelike wêreldbeeld wat ‘n begronding kan bied vir objektiewe morele waardes nie. Ongelowiges sal stem met stellings soos, “Jy mag nie moord pleeg nie”, “Jy mag nie steel nie” en “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”. Volgens watter standaard word hierdie bepaal gegewe dat die Woord van God verlaat is as gesag? Al waarna verwys kan word is emosie, opinies en konsensus waarvan al drie lei tot nuwe probleme vir ongelowiges. As Christene begrond ons die morele waardes in die Skrif, God se natuur, en in ons posisie as skepsels met ‘n morele verpligting teenoor ons Skepper wat ons verantwoordelik hou vir ons doen late.


Op grond van die evolusionistiese beskouing wat Du Toit en Van den Heever aanhang bestaan daar dus nie objektiewe morele waardes nie. Dit is ook hier waar Van den Heever ‘n stappie verder gaan as Du Toit (en selfs Du Toit weerspreek) en homself in ‘n self-weerlegende situasie bevind. Waar Du Toit nie beweer het dat God immoreel is nie, beweer Van den Heever dit wel wanneer hy verwys na sogenaamde tekste waar die Here verkragting en moord aanmoedig. Maar wat is objektief verkeerd met verkragting en moord op grond van evolusionistiese voorveronderstellings? Natuurlik niks nie, dit borrel neer tot ‘n verskil in opinie. Om te beweer dat God immoreel is (of ten minste was), kort Van den Heever eers ‘n standaard waarvolgens hy God kan oordeel, en ongelukkig tel sy subjektiewe opinie oor moraliteit nie meer as my opinie dat sjokolade-roomys lekkerder is as vanielje-roomys nie. Van den Heever gebruik objektiewe morele beginsels wat in hom geskep is deur die Here, volgens Romeine 2, om die Here te oordeel. Hy saag aan die tak waarop hy sit. Slegs die Christen kan moord en verkragting in die sterkste terme objektief veroordeel.


Van den Heever beweer ook dat die verstaan van evolusie, opgesom as “die sterkes oorleef en die swakkes sterf”, doodgewoon twak is. Dit is die gebruik van die woord “sterk” wat lei tot hierdie ekwivokasie, maar die aanvanklike kritiek teen Du Toit en Van den Heever staan steeds en dit is dat evolusie die begronding vir kennis en objektiewe morele waardes vernietig en sodoende self-weerleggend is. Miskien is ‘n term soos “fiks” meer gepas as “sterk”.


Die ironie van elke woord wat hulle skryf teen die Christelike wêreldbeeld is dat dit juis die Christelike wêreldbeeld nodig het om hulle replieke impak te gee: Slegs op grond van die waarheid van die Christelike wêreldbeeld maak debat en argumentasie sin. Die repliek-skrywers het die debat verloor die oomblik toe hulle pen op papier gesit het, want daardeur wys hulle dat hulle beeld van God is, en nie, "'n onvoorspelbare brein" of, "voortvloeisel van evolusionêre ontwikkeling" nie. Of hulle dit wil erken of nie hulle is soos enige ander mens geskape na die beeld van God, het ontsaglike waarde en benodig soos ons almal die redding wat gevind word in ons Here Jesus Christus.


Kyk gerus die volgende video waar Jeff Durbin dieselfde argument toepas op ‘n ongelowige:



0 comments

Support our work

A donation of $1 can go a long way toward keeping us online.

Subscribe. Be Awesome

Subscribe. Be awesome.

Get updates on new posts, upcoming discussions, and more!

Black Background

Always ready.

  • Facebook
  • Instagram

©2020 by Apologetics Central 

Contact us.