Government Building Columns

Christene trap klei?

Updated: Dec 6, 2020

In die Rapport van die 22ste November het my artikel verskyn wat reaksie gebied het op die van Ben Du Toit. Die artikel het 'n interne kritiek gedoen op Du Toit se wêreldbeeld, en het ook die Christelike siening op die probleem van kwaad en lyding verskaf.


In die Rapport van die 30ste was daar twee klein stukkies geplaas wat reaksie gebied het op my skrywe. Ek wil graag 'n laaste paar woorde sê oor die geplaasde kommentaar om sodoende dié hoofstuk af te sluit. Die titel waaronder die twee reaksies geplaas is lui as, "Selfde ou storie soos Christene klei trap". Het ek werklik klein getrap? Wat sou die regverdiging wees vir sulke stelling? Laat ons sien.


Pieter, van Klerksdorp, skryf die volgende:

Hier gaan ons weer. As iemand steun op die verhaal van Josef en die daaropvolgende gebeure in Egipte en later die trek van die Israeliete deur die woestyn om aan te dui dat God kwaad kan gebruik om goed te bewerkstellig, sink die skip.

Dit blyk asof Pieter nou 'n interne kritiek gaan bied vir die antwoord wat ek gegee het in my plasing (deur byvoorbeeld 'n logiese teenstrydigheid uit te wys binne die Christelike wêreldbeeld). Hoekom sink die (Chirstelike) skip (my antwoord) volgens hom? Want, skryf hy:


Daar was nooit ’n Josef en Moses nie. Die Bybelse vertelling is blote versinsel. Die mens se brein is ’n voortvloeisel van evolusionêre ontwikkeling. Navorsing hieroor is oral verkrygbaar. Die huidige brein is nie deur iets of iemand geskep nie. Dit het ontwikkel sonder ’n stuurman.

Wat Pieter dus bied is 'n eksterne kritiek, nie 'n interne kritiek nie. Die voorbeeld van Josef wat ek gebied het om te wys hoe God sondige dade kan bestem vir goeie doeleindes bly staan, en is gebou op Christlekie voorveronderstellings (net soos Du Toit se aanvanklike aanval gestel het dat daar geen oplossing is vir die probleem op Chirstelike voorveronderstellings nie).


Pieter se argument dra dus geen gewig nie, want dit is so goed soos die volgende argument: "Die idee dat tamaties rooi is, is vals, want piesangs is geel". Pieter se antwoord het niks te doen met die probleem waarop antwoord gebied word binne die Christelike wêreldbeeld nie. Laat ek probeer om meer te verduidelik: Hoe kan die Christen sin maak van swaarkry en lyding in die lewe gegewe God se openbaring van wie Hy is? Dit is die vraag wat geantwoord moet word. Paragraaf een wat Pieter skryf begin met Christelike voorveronderstellings (bv. Josef se bestaan, God se bestaan, die trek uit Egipte ens.). Daarna beweer Pieter dat my antwoord op die vraag die skip laat sink want Josef (en God by implikasie van die res van sy antwoord) bestaan nie. Dit is onlogies. As hy kritiek wou lewer, moes hy wys dat daar 'n logiese teenstrydigheid is in die antwoord wat ek gebied het gegewe die beginpunt (Josef se bestaan, God se bestaan, die trek uit Egipte ens.) Hy het nie dit gedoen nie. Al wat hy bied is bevooroordeelde vermoede oor die werklilkheid van sy anti-Christleike beskouing. Op sy reaksie geld dus dieselfde as wat ek aanvanklik vir Du Toit geskryf het. Mike, ook van Klerksdorp, het 'n beter reaksie geskryf en my argument gevolg to by die implikasies. As alle sonde gebeur binne God se dekreet (soos Josef se verkoop as slaaf) dan geld dieselfde vir die sondeval.

[Arné] sê dat niks kan gebeur as dit nie deur God bepaal word nie en daarom is dit ook net God wat sonde kan laat gebeur. Hiermee sê hy inderdaad dat dit deur God se toedoen is dat daar ’n sondeval was en gevolglik is God verantwoordelik vir al die ellende op aarde.

Hy sluit dan af met:

Dit pas egter nie in by die Christelike geloof, waarvan hy deel is nie. Voeg hierby dat hy ook nie kan bewys dat sy God werklik bestaan nie, dan moet hy versigtig wees dat Du Toit hom nie dalk ook aan die kort hare beetkry nie.

Die tweede paragraaf, waar Mike beweer dat God nie bestaan nie, val in dieselfde gat as Pieter hierbo en daarom geld dieselfde kommentaar wat ek aan Du Toit geskryf het vir hom ook. Ontken die bestaan van God en verloor die regverdiging vir alle kennis. Maar nou, is God verantwoordelik vir die sondeval? Mike beweer dat my antwoord teen my Christelike geloof skop en dat ek myself in die voet skiet. 'n Vinnige oorsig van die Gereformeerde tradisie sal wys dat dit nie die geval is nie. Calvyn het byvoorbeeld die volgende geskryf:

The first man fell because the Lord deemed it meet that he should.

...en...

I freely acknowledge my doctrine to be this: that Adam fell, not only by the permission of God, but by His very secret, the counsil and decree …

Ek is goed bewus dat hierdie die logiese gevolgtrekking van my artikel aan Du Toit is en ek het nie daarop uitgebrei nie juis omdat dit 'n moeilike onderwerp is wat meer spasie sou vereis. Beteken my antwoord dat God verantwoordelik is vir alle sonde op aarde? Die Westminster belydenis van geloof bevat die volgende in paragraaf III:

God from all eternity did, by the most wise and holy counsel of his own will, freely and unchangeably ordain whatsoever comes to pass: yet so, as thereby neither is God the author of sin, nor is violence offered to the will of the creatures, nor is the liberty or contingency of second causes taken away, but rather established.

Dit is dus duidelik dat histories gereformeerdes bely dat alles wat gebeur het en gaan gebeur in God se dekreet bevat word (insuitend sonde), maar dat dit nie God die "outeur" van sonde maak soos Mike insinueer nie.

Dit raak belangrik om terme te definieer op hierdie punt. As Mike sê God dat verantwoordelik vir sonde is, dan neem hy aan dat God die "direkte" oorsaak is van sonde (God is aktief besig om mense te maak sondig). Dit is nie die geval nie - ek het nog nooit gesondig teen my wil nie. Die belydenis tref onderskeid tussen primêre - en sekondêre oorsake. Eerder as om te probeer verduidelik wat sekondêr en primêr beteken in die konteks gaan ek probeer om 'n voorbeeld te gee van hoe twee mense deel kan wees van die oorsaak van 'n slegte daad, maar dat slegs een die skuld dra.

Kom ons sê persoon A sukkel met geld en het groot nood. Persoon B sien die nood en wil persoon A help. Persoon B gaan beroof 'n bank om persoon A geld te kan gee. Persoon A is die oorsaak van die die daad van persoon B omdat hy die situasie geskep het wat gelei het dit persoon B se sonde, maar persoon B is direk verantwoordelik want die daad het weens sy natuur self by sy verstand opgekom, en hy het ook die keuse gemaak volgens sy natuur om die bank te beroof. Persoon A is dus verantwoordelik in 'n "uiteindelike" sin, maar persoon B is verantwoordelik in 'n "direkte" sin. Slegs persoon B dra skuld. Die analogie is nie veronderstel om die situasie tussen God en Sy skepping ten volle te kan begryp nie, maar dit kan wel 'n idee bied vir hoe twee persone deel kan wees van 'n oorsaak sonder dat albei skuld dra. God is die pottebakker, en Hy kan ons skep en maak soos Hy wil. Maar nou, net soos God dit bepaal het dat Josef se broers hom sou verkoop aan Egipte om 'n goeie doel na vore te bring, net so het die Here die sondeval vooraf bestem om sodoende 'n groter goeie werk nie vore te bring: die verheerliking van God in die redding van Sy kinders, en in die verwoesting van Sy vyande. Dit is weereens 'n bitter pil om te sluk, maar ons moet Sy Woord ernstig opvat en dit glo. Gaan ons ooit kan verstaan hoe God die sonde as deel van Sy skeppende dekreet kan hê en steeds geen skuld dra nie? Seker nie, maar die Bybel leer ons dit is die geval. In die volgende debat tussen James White en David Silverman het hulle gesels oor die spesifieke onderwerp. Kyk gerus na die kontras tussen 'n "free will" verdediging en 'n meer Bybels verdediging.



Voor ons eindig...


Geen reaksie wat gebied was het gesels oor die interne kritiek wat ek gedoen het teen Du Toit se anti-Christlike (evolusionistiese) wêreldbeeld nie. Ek dink die rede daarvoor is eenvouding: Daar is geen antwoord nie. Al wat die ongelowiges kan doen is om terug te probeer aanval want hulle kan nie verdedig nie. Die ironie van elke woord wat hulle skryf teen die Christelke wêreldbeeld is dat dit juis die Christelke wêreldbeeld nodig het om hulle replieke verstaanbaar te maak: Slegs op grond van die waarheid van die Christelike wêreldbeeld maak debat and argumentasie sin. Die repliek-skrywers het die debat verloor die oomblik toe hulle die pen op papier gesit het, want daardeur bewys hulle dat hulle beeld van God is en nie, "'n onvoorspelbare brein" of, "voortvloeisel van evolusionêre ontwikkeling" nie.

Laaste sê


Laat ons nie vergeet dat die objektiewe onderskeid tussen reg en verkeerd slegs sin maak op grond van die Christelike wêreldbeskouing. Dit maak nie sin om te praat van reg en verkeerd in 'n objektiewe sin gegewe Darwinistiese vooveronderstellings nie. Daarom is dit slegs die Christen wat werklik 'n probleem het met kwaad en lyding. Die ongelowige (soos die twee ouens wat repliek lewer) probeer dus (of is veronderstel) om op grond van Chirstelike voorveronderstellings 'n interne kritiek te lewer van ons wêreldbeskouing (spesifiek die antwoord op kwaad en lyding), want daar is geen probleem van kwaad en lyding op grond van hulle wêreldbeeld nie. Die kritiek (soos Du Toit dit voorgegee het) lyk formeel as volg: 1. God is goed

2. God is almagtig

3. Daar is kwaad.


Al drie punte is waar. 1 en 2 leer ons uit die Bybel, en 3 sien ons in die wêreld om ons en ook in die Bybel. Maar 1, 2 en 3 in isolasie kom neer op 'n paradoks. As God goed is en almagtig is dan sal Hy mos die kwaad stop? Daarom, die feit dat daar kwaad is beteken of dat God nie goed is nie, of dat God nie almagtig is nie. Maar, omdat ons werk op Chirstelike voorveronderstellings, kan ons wel 'n 4de stap inwerk (Ons moet toelaat dat die Here se volle openbaring ons kan inlig soos ons die probleem benader).


Die Bybel leer ons dat die Here doen soos wat Hy wil volgens sy natuur en dat Hy alle dinge bewerk ten goede vir die wat Hom liefhet om op die ou end Homself te verheerlik. Die Here kan ook kwaad toelaat tot 'n goeie doel (soos ek gewys het in die artikel aan Du Toit). Daarom voeg ons in by die drie punte: Die Here het goeie redes vir die kwaad wat Hy wel in Sy dekreet bevat het. Dus, 1. God is goed

2. God is almagtig 3. God het goeie redes vir die kwaad wat Hy in Sy dekreet bevat

4. Daar is kwaad. Hierdie vier punte los die probleem van kwaad en lyding op. Vir meer, lees die volgende artikel deur Greg Bahnsen oor die "problem of evil".

Support our work

A donation of $1 can go a long way toward keeping us online.

Subscribe. Be Awesome

Subscribe. Be awesome.

Get updates on new posts, upcoming discussions, and more!

Open Book
Always Ready.
  • Facebook
  • Instagram

©2020 by Apologetics Central 

Contact Us.