Inhoud
Inleidende opmerkings
Die Sê-Antwoord-Vra metode
Sê (sit uiteen)
Antwoord (verdedig)
Vra (val aan)
Nog 'n paar opmerkings
1. Inleidende opmerkings
Apologetiek is eintlik 'n baie praktiese ding: Ons wil die evangelie oortuigend deel. Ons wil vir mense vertel van Jesus, maar ons wil nie dat Jesus (met respek gesê) in die proses so dom soos ons lyk nie.
Wanneer jy nou begin om die boeke te lees wat die geleerdes al oor apologetiek geskryf het – dan sal jy gou agterkom dat prakties-heid nie gewoonlik een van die deugde van apologetiese boeke is nie. Daar’s uitsonderings, maar die meerderheid inleidings tot apologetiek laat jou – na jy dit gelees het – met 'n verwarde brein vol moeilike woorde wat nogsteeds nie weet hoe om apologetiek dan nou eintlik te doen nie.
Meeste apologete (myself ingesluit) het – onbedoeld – die merkwaardige vermoë om iemand meer verward weg te stuur as wat ons hulle ontvang het. Gelukkig is daar uitsonderings: Die goeie ou ysters wat apologetiek vir ons kom prakties maak. Een van die ouens wat dit na my mening die beste doen is Greg Koukl. As jy nou net een boek in jou hele lewe oor apologetiek gaan lees (moet dit asseblief nie doen nie!) – dan sal ek voorstel jy lees sy Tactics. Dit is 'n boek wat jy weer en weer sal gebruik. Instede daarvan om op spesifieke argumente te fokus, skryf hy oor die taktieke wat jy in elke gesprek gaan nodig hê. Sy boek het my al baie gehelp binne en buite die kerk.
In hierdie artikel gaan ek ook baie op Koukl se boek steun. Een van die onderafdelings (Punt 5) kom basies direk uit sy boek. Maar ek probeer ook om op sy skouers te staan. Ek dink byvoorbeeld dat hy soms die verantwoordelikheid van Christene om die evangelie uiteen te sit en te verdedig onderspeel. Nietemin is sy boek die beste handleiding vir praktiese apologetiek wat ek nog onder oë gehad het en ek stel voor jy skaf dit aan vir jou boekrak.
2. Die Sê-Antwoord-Vra metode
Stel jouself in die volgende situasie: Jy drink lekker koffie saam met een van jou studente-maats. Dan is daar 'n nuusberig wat vertel van die nuwe PEPUDA wysigingswet wat godsdienstige vryheid wil beperk. Jou studentevriend sê: “Ek kan nie verstaan hoekom julle Gereformeerdes so kwaad is oor hierdie wet nie. Is julle dan nie lief vir minderheidsgroepe nie?”
Hoe moet jy die evangelie in hierdie situasie bedien? Hoe moet jy apologeties te werk gaan om vir jou vriend te verduidelik waarom ons teen die PEPUDA wysigingswet is?
Hier is 'n ander situasie: Jy sit by die werk en kuier saam met jou kollega’s. Dan begin die gesprek draai na geloof, en een van jou kollega’s sê dat hy 'n ateïs is. Hy sê hy kan eerlikwaar nie sien hoe 'n rasionele mens in God kan glo nie.
Hoe moet jy te werk gaan om sy ongeloof uit te daag? Hoe wys jy dat ons geloof nie irrasioneel is nie?
Meeste van ons is op 'n plek waar ons glad nie weet hoe om te werk te gaan in sulke situasies nie. Aan die een kant weet ons dat daar baie goeie argumente en antwoorde vir hierdie vrae is. Maar aan die ander kant weet ons dat ons nie die ouens is wat hierdie antwoorde ken nie.
So wat moet ons doen? Moet ons maar net vasbyt en begin “swot”? Of is daar 'n meer fundementele benadering – is daar beginsels wat ons uit die Skrif kan kry wat ons sal help om kop bo water te hou in hierdie situasies? Is daar algemene riglyne vir hoe ons in hierdie situasies die evangelie op die tafel moet bring?
Ek dink so. En in hierdie artikel gaan ek uiteensit wat ek dink Bybelse riglyne is praktiese apologetiek. Ek noem dit die Sê-Antwoord-Vra metode.
Die Sê-Antwoord-Vra metode is eintlik baie eenvoudig. In meeste apologetiese situasies wil jy hierdie drie dinge doen: Jy wil vir die persoon sê wat jy glo, jy wil sy vrae oor wat jy glo antwoord, en jy wil self vir hom vrae vra om sy standpunt uit te daag. Hierdie drie elemente hoef nie in enige volgorde plaas te vind nie. In baie situasies sal jy dalk eers met 'n vraag begin om seker te maak jy verstaan jou vriend reg. Maar in meeste situasies wil jy graag al drie hierdie elemente tot hul reg laat kom (veral wanneer dit iemand is wat jy gereeld mee in gesprek is).
3. Sê (sit uiteen)
Wanneer jy besig is met apologetiek moet jy sê wat jy glo. Dit is nogal 'n belangrike element wat soms afgeskeep word. Hoekom is dit so belangrik?
Wel, omdat 'n koherente uiteensetting van jou geloof alreeds in sigself oortuigend is. In my beperkte ervaring met ongelowiges het ek agtergekom dat hulle baie keer glad nie verstaan wat ons glo nie. Films en TV-Reekse maak sulke strooi-poppe van Christene dat ongelowiges soms vreemde idees oor ons het. Daarom is dit oortuigend wanneer jy eenvoudig uiteensit wat jy glo en hoekom jy dit glo.
Hier is dit belangrik om eerlik te wees. Moenie skaam voel oor wat die ongelowige van jou gaan dink nie. Die hele rede waarom ons wil hê hulle moet bekeer, is omdat ons wêreldbeskouing anders is as hulle wêreldbeskouing. So as niks wat jy sê vir jou vriend vreemd gaan klink nie – waarom moet hy bekeer?
Kom ons gesels weer oor die voorbeeld van netnou: Jy en jou studentevriend sit en drink lekker koffie, en dan vra hy vir jou hoekom ons nie lief is vir minderheidsgroepe (soos homoseksueles) nie. Hoe sal jy hom antwoord?
Wel, een van die elemente van jou antwoord moet die sê-element wees. So jy moet vir hom sê wat ons werklik hieroor glo. Byvoorbeeld: “Ons is regtig lief vir minderheidsgroepe – ja, selfs vir homoseksueles – maar ons is ook lief vir God se wet. En ons weet dat as iemand nie bekeer en in God glo nie, maar volhard in sy sondes, dan gaan hy vir ewig hel toe. So ons gee om vir homoseksueles, en juis daarom sê ons vir hulle dat hulle sonde doen.”
Sien jy wat hier aangaan? Die oorspronklike vraag het 'n onderliggende misverstand gehad: Dat ons nie omgee vir homoseksueles nie omdat ons sê dat hulle volhard in sonde en daarom hel toe gaan. Deur net te verduidelik dat ons eintlik baie omgee vir homoseksueles en juis daarom vir hulle sê dat hulle moet bekeer het jy alreeds ons geloof oortuigend voorgehou.
4. Antwoord (verdedig)
Jy het sopas vir jou vriend gesê wat jy glo. Wat nou? Wel, wees gereed om sy vrae te antwoord!
Jou vriend kan, byvoorbeeld, nadat jy verduidelik het presies wat ons glo oor homoseksualiteit, vir jou vra hoekom dit nodig is dat sonde vir ewig in die hel gestraf word. Wat is dan so erg aan sonde? Op die manier vra jou vriend vir jou 'n vraag oor wat jy sopas gesê het, en jy moet bereid wees om hierdie vraag te antwoord. Maar hoe moet jy antwoord?
Wel, sover moontlik, antwoord uit die Bybel. Onthou dat hierdie 'n vraag is oor wat jy glo. En wat jy glo word uiteengesit in die Bybel. En die Bybel het antwoorde op meeste van ons vrae. Die Bybel gee ook vir ons antwoorde oor waarom sonde so erg is.
Hier is 'n voorbeeld van hoe jy die vraag uit die Bybel kan antwoord: “Sonde is erg omdat dit skeiding bring tussen ons en God (1 Joh. 1:5-7). Sonde maak dat ons nie gemeenskap met God kan hê nie. Maar om nie gemeenskap met God te hê nie is in sigself hel. Wanneer Christus neerdaal na die hel, dan roep Hy uit: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’ Ons leer dit ook wanneer Jesus in Johannes 17:3 bid: ‘En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.’ Om God te ken en in gemeenskap met Hom te wees, is die ewige lewe. Daarom is dit so belangrik om deel van Christus te wees, sodat sy bloed ons sondes vergewe en sy goeie werke op ons geplaas kan word. Want sonder dit kan niemand gemeenskap met God hê nie. Sonder dit moet jy hel toe gaan.”
Sien jy hoe die Bybel antwoorde het? Om vrae so te antwoord moet ons egter besig wees met die Bybel. Ons moet dit lees en daaroor dink. Ons moet Skrifgedeeltes onthou sodat ons dit later kan gebruik wanneer ons met hierdie vrae gekonfronteer word.
Maar jy hoef nie al jou vriend se vrae te antwoord nie. Wees eerlik. As hy 'n goeie vraag vra, en jy nie dadelik weet wat om te antwoord nie, sê: “Dis 'n goeie vraag. Ek sal gaan uitvind en na jou terugkom.” En dan vind jy uit en kom na hom terug.
5. Vra (val aan)
Jy moet nie net sê wat jy glo en vrae antwoord oor dit wat jy gesê het nie. Jy moet vir jou vriend ook vra oor wat hy glo. Ons wil nie net Jesus verdedig nie. Ons wil sy vyande ook aanval. Voor iemand vir Jesus kan aanvaar moet hy eers homself en sy verlossers uit die wêreld laat vaar. Na my mening is daar drie vrae wat jy kan vra:
i. Die eerste vraag: Wat bedoel jy?
In meeste situasies is dit goed om altyd hierdie vraag eerste te vra – veral wanneer jou vriend sopas iets oor die Bybel, sy mening, of jou geloof gesê het. Baie kere sê mense dinge sommer net in die algemeen. Jy moet oppas om teen sulke algemene sê-goed te reageer voor jy seker is jy weet presies wat hy daarmee bedoel.
Kom ons vat die ander situasie wat ons netnou bespreek het. Een van jou kollegas sê dat hy nie kan sien hoe enige rasionele mens kan glo in God nie. Wat presies bedoel hy daarmee? Dink hy dat net dom mense in God glo? Of dink hy dat dit 'n dom ding is om in God te glo? Wel, vra hom: “Wat bedoel jy?” En laat hom dan uitbrei. As jy nogsteeds nie seker is wat hy bedoel nie, vra hom om nog uit te brei. Laat hy verduidelik waarom hy nie kan sien hoe rasionele mense in God kan glo nie. Maak seker jy verstaan goed wat hy bedoel voor jy probeer om sy vrae te antwoord.
ii. Die tweede vraag: Hoekom sê jy so?
Met hierdie vraag wil jy jou vriend uitdaag om redes te gee vir wat hy sê. Nie net Christene behoort redes te hê vir wat hulle glo nie, maar ook ongelowiges.
Kom ons sê hy verduidelik dat meeste slim mense saamstem dat daar nie 'n God is nie. Wel, op grond van wat sê hy dit? Laat hy dit bewys! Hoe weet hy ateïste soos David Hume en Bertrand Russel is slimmer as Christene soos Calvyn en Bavinck? Daag jou vriend uit. Vra vir hom die “hoekom” vraag. Hoekom sê jy so? Bewys dit.
iii. Die derde vraag: Maar hoe maak jy sin van hierdie ander ding?
Met hierdie vraag wil jy jou vriend nog verder uitdaag. Maar nou daag jy hom nie uit om bewyse te gee vir wat hy sopas gesê het nie. Nee, nou gee jy vir hom feite wat in teenstelling is met sy standpunt.
Jy kan byvoorbeeld wys na al die slim mense in die verlede wat Christene was. Ons het reeds van Calvyn en Bavinck gepraat. Maar wat van al die slim Christene wat vandag nog leef en werk? Wat van James Anderson? Wat van Alvin Plantinga? Wat van Jason Lisle? Hierdie manne neem op die voorste punt deel in die gesprekke waarin hulle gespesialiseer het. Hoe maak jy sin van hierdie gegewens?
Verder wil jy ook met hierdie vraag jou vriend se hele fondasie uitdaag. Hy glo dat mense nie deur God geskape is nie. Dat hulle (volgens ewolusionisme) ontwikkel het vanaf ape. Maar ape is nie slim nie! So hoekom sal dit enigsens saak maak wat mense dan dink? Sonder om ingewikkeld te raak kan ons uitwys dat hy inkonsekwent is met sy eie fondasie van ewolusionisme en ateïsme as hy aanneem dat mense slim kan wees. Op hierdie manier wil jy jou vriend met die derde vraag uitdaag. Jy wil vir hom wys waar hy inkonsekwent is.
6. Nog 'n paar opmerkings
Die Sê-Antwoord-Vra metode is volgens my baie kragtig, omdat dit ons help om apologetiek te doen waar ons ook al is. Jy hoef nie baie slim te wees om die Sê-Antwoord-Vra metode te gebruik nie. Jy hoef ook nie die heeltyd ingewikkelde argumente te gebruik, terwyl jy eintlik maar net met jou vriend wil gesels en in liefde die evangelie met hom deel nie.
Hiermee dink ek nie dat dit sleg is om verder oor apologetiek op te lees, of na te dink oor hierdie kwessies nie. Alle sê-goed, alle antwoorde en alle vrae is nie gelyk nie. Jy kan beter sê wat jy glo, beter antwoorde gee op jou mede studente se vrae en beter vrae vir jou kollega’s vra as jy al 'n bietjie oor apologetiek opgelees het.
So lees op oor hierdie goeters. Dink daaroor. Vra jouself af watter argumente oortuigend en waterdig is. Probeer om goeie vrae te vra en goeie antwoorde te gee. Maar begin sommer om dit vandag nog te doen. Moenie wag tot jy 'n paar boeke deurgelees het nie. As jy genoeg weet om belydenis van geloof te doen, weet jy genoeg om apologetiek te doen.
Vrae:
Is apologetiek prakties? Hoekom dink jy so/nie so nie?
Was jy al in 'n situasie waar jy die evangelie met iemand wou deel maar nie geweet het hoe nie?
Was jy al bang dat jy 'n gemors daarvan gaan maak as jy nou iemand se vrae antwoord?
Watter drie goeters moet ons doen in apologetiese gesprekke?
Hoekom is dit belangrik om te sê wat ons glo?
Wat glo ons? Maak 'n kort opsomming van die groot “verhaal” van die Bybel.
Het jy al jou geloof met iemand gedeel (vir hom/haar gesê wat jy glo)?
Hoekom is dit belangrik om vrae te kan antwoord oor wat ons glo?
Het iemand al vir jou vrae gevra wat jy nie kon antwoord nie?
Waar moet ons vir antwoorde gaan soek?
Is dit belangrik om vir jou ongelowige vriende vrae te vra? Hoekom/hoekom nie?
Watter drie vrae kan ons vir ons ongelowige vriende vra?
Het jy al hierdie soort vrae vir jou ongelowige vriende/vriendinne gevra?
Comments