Hoekom is evolusie vals, en hoekom kan ‘n Christen nie glo in evolusie nie?

Hierdie is die vierde artikel in ons Hoe/Hoekom reeks. Ons het begin deur te gesels oor wat dit beteken om Gereformeerd te wees, toe oor hoe ons weet die Bybel is waar en daarna oor hoekom daar ongeloof is. Ons kyk nou na ‘n praktiese (en algemene) voorbeeld van ongeloof, en oor hoe ons ‘n antwoord kan bied vir hierdie soort ongelowiges. (Die vorige drie artikels sal goeie agtergrond wees vir die volgende artikel).



Wat is die probleem?


Volgens die sekulêre wetenskap is die aarde ongeveer 4,5 miljard jaar oud en lewe op aarde ongeveer 3,5 miljard jaar. Oor die verloop van 3,5 miljard jaar het die verskriklike wrede proses van Darwinistiese evolusie verloop, nl. mutasies, siektes, sterftes, dood en seleksie om op die ou einde die mens, soos ons hom vandag ken, as ‘n toevallige produk te vorm. Dit behoort dus duidelik te wees dat ons as Christene nie plek kan maak vir so ‘n  teorie as ons vashou aan God se Woord as die enigste onfeilbare waarheid nie.

Darwinisme  ontken verder dat die mens geskape is na die beeld van God, uniek en apart van die res van die diere. Dit ontken dat die Here geskep het in ses dae, asook dat elke dier na sy soort gemaak is en dat dood en swaarkry die gevolg is van die sondeval (Gen 3:17; Rom 8:19-22). Laastens en die belangrikste, ontken die teorie dat ons ‘n Verlosser nodig het. Sonde en dood is vir evolusioniste deel van die normale werking van die heelal. Deur evolusie as waar te kan bewys, sal die mens effektief sy oordeel kan ontsnap! Hierin lê die sleutel tot ons gesprek (sien die vorige artikel in ons reeks).


Geen neutraliteit


Die fout wat dikwels gemaak word, is dat aangeneem word dat wetenskaplikes neutraal is of dat die mens op ‘n neutrale manier kan omgaan met feite om sin te maak van die wêreld sonder enige voorveronderstellings. Dit is egter teenstrydig met wat ons leer in die Bybel. Ons (insluitend wetenskaplikes) is of vir Christus, of teen Hom (Mat 12:30; Rom 1:21). Die evolusionis wat  aanspraak maak op die “feite” alleen, is in werklikheid besig om te kyk na die “feite” deur die lens van ‘n fundementele anti-Christelike wêreldbeskouing. Hy sal weens sy sondige natuur alle feite interpreteer op ‘n nie-Godvresende manier (1 Tim 6:20; Spr 1:22; Ef 4:17-18). Hy wil sy oordeel ontsnap en sy eie god wees (Rom 2:3). Die Christen aan die ander kant sal kyk na dieselfde feite en tot gevolgtrekkings kom wat in lyn is met God se openbaring in die Bybel (Ps 36:9; Kol 2:3, 8; Spr 1:7). Daar is dus geen skeiding of tweestryd tussen geloof en wetenskap nie. Die vraag wat ons eerder moet vra is: “Wie dien ons in ons ondersoeke en denke?” Dien ons God, of enige ander afgod (insluitend onsself)?

Daar word dikwels gese dat “[Kreasoniste] reglynig met die hoofstroomkerke oor die interpretasie van die Bybel verskil” en dat “teoloë en Bybelnavorsers gou met [kreasioniste] se wolhaarstories [sal] klaarspeel” [Dr Jurie van den Heever, Rapport 16 Aug. 2020]. Daar word ook aanspraak gemaak op die “hoofstroom wetenskap” en “hoofstroom kerke” wanneer geargumenteer word vir evolusie. Maar as ons moet aanvaar wat die hoofstroom mense aanvaar, dan sal selfs Darwin moes gaan sit het toe hy die eerste keer sy teorie voorgelê het in 1859. Nee, as Christene is ons houding soos volg: Selfs al trek die hele wêreld op teen God en Sy Woord staan ons bankvas en sê ons “dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens 'n leuenaar”. (Rom 3:4)


In antwoord


As Christene verwerp ons evolusionisme op grond van God se Woord. Christelike wetenskaplikes soos  Dr. Jason Lisle, Dr. Stephen Meyer en Dr. Douglas Axe, ens. verwerp dit op grond van wetenskaplike redes. Net so kan filosowe en teoloë soos Plantiga, Van Til en Bahnsen evolusie verwerp op filosofiese gronde. Dit is hier waar vir ‘n oomblik stil gestaan gaan word. Soms is die antwoord nie deur die “feite” te probeer argumenteer nie, want dit maak net die ongelowige wys in sy eie oë. (Spr 26:4; 1 Kor 1:20) Aanvaar vir argumentsonthalwe dat evolusionisme reg is (Spr 26:5). Die mens kom dan van ‘n soort aap af wat saam die res van alle plante (ja, mense en piesangs is verwant…  ) en diere ‘n gemeenskaplike voorouer het. Volgens evolusioniste het die lewe net een doel en dit is om voort te plant. Die dier wat beter voortplant en beter oorleef word geselekteer bokant die een wat nie so goed voort kan plant en oorleef nie. Waarvoor is die mens dan gemaak? Bloot dan  net vir voortplanting en oorlewing. 

Hoekom aanvaar die evolusionis dan dat sy verstand gebou is vir wetenskaplike ondersoek? Sy verstand sal hom mos dan doelbewus om die bos lei as dit kan maak dat hy beter voortplant. Verder beskou die evolusionis nie homself as skepsel in die drie-enige God se skepping nie. Deur homself as sy eie god te probeer beskou verloor hy enige regverdiging vir die betroubaarheid van sy rede en sintuie, hy verloor ‘n fondasie vir universiële wette van logika wat ons denke reguleer, hy verloor ‘n fondasie vir objektiewe moraliteit en hy verloor ‘n fondasie vir uniformiteit in die natuur. Maar dit is juis hierdie elemente wat hy gebruik om sy teorie te formuleer! Sodra die evolusionis dus probeer sin maak van die wêreld sonder om reg te dink as skepsel in God se skepping, weerlê hy homself. Hy is soos ‘n persoon wat die tak af sny waarop hy sit.

Kontrasteer dit met die Christelike wêreldbeskouing. Ons is skepsels geskape na die beeld van God wat leef in God se wêreld wat deur Hom onderhou word (Gen 1; Ps 104:19; Jer 33:25; Heb 1:3, Gen 8:22). Ons verstand is geskape deur die Skepper om wetenskap te beoefen, die natuur is geskep en word onderhou deur God om wetenskap moontlik te maak. Die wette van logika is gegrond in God se natuur en ons reflekteer God se denke op ‘n klein skaal wanneer ons reg en logies dink. Die Christen kan dus sin maak van realiteit waar die evolusionis homself in ‘n mengsel van onontsnapbare teenstrydighede bevind.


Ten slotte

Op die einde van die dag kom dit daarop neer dat ongelowiges nie te min feite het om te glo nie, maar ‘n morele probleem het wat veroorsaak dat hulle rebelleer teen God. Diep in sy hart ervaar die ongelowige sy afhanklikheid. Al wat die ongelowige tot bekering kan bring is die aanhoor van die evangelie van ons Here Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees in hulle harte (Rom 10:17). As dit nie was vir die genade van God nie kon dit net sowel ons wees wat in die publieke forum [soos van den Heever in die Rapport] ons ongeloof uitbasuin.

Keyboard and Mouse

Support our work

A donation of $1 can go a long way toward keeping us online.

Subscribe. Be Awesome

Subscribe. Be awesome.

Get updates on new posts, upcoming discussions, and more!

Greek Ancient Sculpture of Warrior
Always Ready.
  • Facebook
  • Instagram

©2020 by Apologetics Central