Hoekom is daar Ongeloof?

Hierdie is die derde artikel in ons hoe/hoekom reeks. Die eerste artikel het gevra: “Hoekom is jy Gereformeerd?” en die tweede het gevra “Hoe weet jy die Bybel is waar?”. Vanuit die vorige twee artikels het ons nou ‘n goeie fondasie om te begin dink oor ongeloof. In die vorige artikel was geskryf: “Die Moslem (soos alle ongelowiges) weet sy afgod bestaan nie, maar laat homself weens sy sondige natuur gewillig mislei om die ware God te vermy”. Wat beteken dit?



Scott Oliphint het gesê dat apologetiek die toepassing van Gereformeerde teologie op ongeloof is. So, voor ons enige vorm van ongeloof (Islam, ateisme, Hinduisme ens.) kan verstaan, moet ons eers weet wat die Gereformeerde (Bybelse) standpunt is oor die mens en die mens se verhouding met God. Eers nadat die wortels van ongeloof geïdentifiseer is, kan ons dit aanspreek wanneer ons betrokke raak in apologetiek. Die apologeet wat nie die oorsaak van ongeloof verstaan nie, is soos ‘n dokter wat blindelings ‘n pasiënt probeer behandel sonder om eers uit te vind wat die oorsaak van die probleem is.


Die Mens


Elke mens is geskape na die beeld van God, dit leer ons reeds vroeg in die Bybel in Genesis 1:26. Die mens was goed geskape, maar tog het die mens besluit om teen God te rebelleer deur hulle eie god te probeer wees. Romeine 5:12 leer ons duidelik dat deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Deel van die gevolge van hierdie sondige natuur word vir ons uitgelê in Romeine 3:10-11 wat sê dat niemand regverdig is nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, selfs nie een wat na God soek nie.


Niemand wat na God soek nie? Dit mag dalk vreemd klink omdat ons gewoond is aan sêgoed soos “Jy moet Jesus in jou hart in nooi”, maar dit is onbybels. Eerder, alle mense (ja, insluitend ons) is in sonde ontvang en gebore, en die sonde is ‘n mag wat slegs gebreek kan word deur die krag van die Heilige Gees wat ons vernuwe en nuwe harte gee (Esegiël 36, HK Sondag 7).


Verder, die Bybel leer ons dat elke mens ten minste twee dinge weet van God: dat Hy bestaan en dat hulle skuldig staan onder Sy wet wat geskryf is op die harte van alle mense. Hierdie leer ons duidelik in Romeine 1 en 2. Die apostel Paulus leer ons dat dit wat van God geken kan word in ons geopenbaar is, en ook gesien kan word in dit wat geskape is, sodat daar geen verontskuldiging is nie (Romeine 1:18-21, NGB Artikel 2). Hy leer ons ook dat wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word (Romeine 2:14-15).


Ter samevatting, elke mens is geskape na die beeld van God, ken deel van Sy wet en weet dat Hy (die ware God) bestaan, sodat daar geen verontskuldinging is nie.


Ongeloof en die Oplossing vir Ongeloof


So, hoekom is daar dan ongeloof? Paulus leer ons in Romeine 1 dat dit is omdat mense in die ongeregtigheid van hulle sonde dit wat hulle reeds weet van God (omdat God dit aan hulle openbaar) onderdruk. Ongeloof is dus die onderdrukking van die waarheid en nie ‘n gebrek aan kennis nie. Ongeloof is ‘n gevolg van die sondeval en ‘n hartsprobleem, nie ‘n verstandsprobleem nie. Geen persoon sal eendag voor die Regtertroon van God kan staan en sê, “Ek het nie geweet nie”. Daar is dus geen verontskuldiging nie.


Die oplossing vir ongeloof lê daarom duidelik nie in verdere argumentasie met die ongelowige rondom die waarheid van God se bestaan nie. Ongelowiges onderdruk reeds die kennis van God, en sal enige nuwe kennis wat hulle opdoen (al is dit hoe slim en voor-die-hand-liggend) ook onderdruk. Die enigste oplossing wat vir ongelowiges gebied kan word om hulle te verlos van hulle ongeloof, is die evangelie van ons Here Jesus Christus. Dit is ook hoekom Paulus verder in Romeine ons leer dat die geloof kom deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. Dit is daarom van kardinale belang dat die konsekwent Gereformeerde apologeet hom of haarself goed vereenselwig met die evangelie, voor daar in gesprek getree word met ongelowiges.


Maar wat is dan die doel van apologetiek?


Die doel van apologetiek is om die geloof van gelowiges te versterk, en om die monde van ongelowiges stil te maak. Die apologeet se rol is nie om te oortuig nie, want dit kan slegs gedoen word deur die werk van die Heilige Gees met die aanhoor van die evangelie. Ons sien dus duidelik die noue verband wat daar bestaan tussen apologetiek en evangelisasie. Ek is persoonlik van mening dat die apologeet wat nie ook intree as evangelis nie, sy of haar doel mis. Die wêreldbeeld van ongelowiges kan afgekraak word en hul argumente vernietig word, maar indien die evangelie nie aan hulle gebring word as oplossing nie, is daar deur geen vordering gemaak of doel met hulle bereik nie. Ek sluit af met die woorde Dr Greg Bahnsen, Gereformeerde apologeet van die 20ste eeu en student van Cornelius Van Til:


The apologist who fails to take account of the evangelistic nature of his argumentation is both cruel and proud. Cruel because he overlooks the deepest need of his opponent and proud because he is more concerned to demonstrate that he is no academic fool than to show how all glory belongs to the gracious God of all truth. Evangelism reminds us of who we are (sinners saved by grace) and what our opponents need (conversion of heart, not simply modified propositions).

Greg Bahnsen


0 comments

Support our work

A donation of $1 can go a long way toward keeping us online.

Subscribe. Be Awesome

Subscribe. Be awesome.

Get updates on new posts, upcoming discussions, and more!

Black Background

Always ready.

  • Facebook
  • Instagram

©2020 by Apologetics Central 

Contact us.