Hoe weet jy die Bybel is waar?
top of page

...

Enhance your understanding and support Apologetics Central by acquiring your next read through the following selections. By clicking, you'll be directed to Amazon via our affiliate link, contributing to our mission with your purchase.

...
Recent articles

Check out some of our other recent articles that might interest your

Ads by Google

Hierdie is die tweede artikel in die Hoe?/Hoekom? reeks. In die eerste artikel van die reeks is daar gevra: “Hoekom is jy Gereformeerd?”. Ons het gesien dat 'n gedeelte van Gereformeerd-wees saamgevat word in die belydenis dat die Bybel alleen die enigste, onfeilbare en hoogste “regula fidei” of gesag is. Gereformeerd-wees gaan ook gepaard met die belydenis van die drie formuliere van eenheid. Ons gaan nou verder bou op die grondslag van die eerste artikel en met die deur in die huis val met 'n moeilike vraag: “Hoe weet jy dat die Bybel waar is?” Besin 'n oomblik oor hierdie vraag en lees dan verder.



Die Formuliere as Hulpmiddel


Diep denkers sal sien dat die vraag eintlik vir ons 'n strik probeer stel. As ons sou beweer dat ons weet dat die Bybel is waar, omdat 'n sekere buite-Bybelse bron so sê (byvoorbeeld 'n groep mense of 'n sekulêre argument) dan beteken dit dat die Bybel nie die hoogste gesag is nie: die buite-Bybelse bron verleen dus aan die Bybel sy gesag. Wat as die buite-Bybelse bron nie bestaan het nie? Sou ons dan nie meer die Bybel geglo het nie? Natuurlik nie. So, hoe kan ons die vraag beantwoord sonder om die Bybel as ons hoogste gesag prys te gee? Die NGB kan ons hier help:


Ons aanvaar al hierdie boeke (van die Bybel), en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

Artikel 5: Die gesag van die Heilige Skrif


Ons sien dus dat ons kan bely dat die Skrif waar is weens twee redes:

1. Die Heilige Gees wek die geloof in ons harte.

2. Die Bybel bewys homself as waar.


Maar wag…


Die antwoord wat hier bo gegee word, is voldoende vir gelowiges, maar wanneer ons in gesprek tree met ongelowiges gaan hulle dit nie net so aanvaar nie. As jy 'n Moslem is, sal jy stry dat die eerste rede, netsowel oor die Koran gesê kan word (“Allah wek die geloof in my hart”). Hulle sal sê die tweede rede is 'n sirkulêre argument, m.a.w.; “Is die Bybel waar, omdat dit eenvoudig sê dit is waar?” Enige boek kan dit dan sê. Hoe beantwoord ons hierdie teenargumente?


Die Heilige Gees Wek die Geloof


Dit is natuurlik waar dat die Moslem dit ook kan sê, maar of dit wat hy sê 'n werklikheid in sy lewe is, word aan sy gewete oorgelaat. Die eerste rede gee vir elke gelowige 'n subjektiewe bewys vir die gesag van die Skrif. Ons ervaar God in ons lewens, want Hy werk in ons harte wanneer ons sy Woord hoor en lees. Ons ervaar Hom in ons alledaagse lewens, want ons het 'n persoonlike verhouding met Hom. Verder sê die Bybel dat almal weet God bestaan, die ware God. Romeine 1:18-23 maak dit duidelik dat niemand eendag 'n verskoning gaan hê wanneer hulle op die oordeelsdag voor God se troon staan nie. Ja, selfs nie die Moslem nie. Die Moslem (soos alle ongelowiges) weet sy afgod bestaan nie, maar laat homself weens sy sondige natuur gewillig mislei om die ware God te vermy. Die afgod kan geen vorm van geloof in hom wek soos die Gees kan nie. Die enigste verskil tussen ons (Christene) en ongelowiges, is God se onbeskryflike genade: ons bely die waarheid, waar ander dit onderdruk.


Die Bybel Bewys Homself as Waar


Die gedagte is in 'n mate 'n sirkulêre redenasie, maar die bewys eindig nie by “die Bybel is waar, want die Bybel sê dit is waar” nie. Die Bybel bring vir ons veel meer as net 'n beskrywing van die verlede. Dit bring primêr 'n volledige Christelike wêreldsbeskouing wat ons in staat stel om sin te kan maak uit die realiteit. Hierdie spesifieke gedagte word, in my ervaring, moeilik oorgedra deur apologete spesifiek omdat dit van 'n mens vereis om bietjie dieper te dink. Die volgende illustrasie deur Cornelius Van Til beskryf dit vir my die beste:


Verbeel jou 'n duiker staan op die punt van 'n duikplank. Hy sien slegs die plank waarop hy staan en die water onder hom, maar hy weet die duikplank is iewers in die grond geanker. Die plank kan nie net in die lug dryf nie. Net soos die duiker op die plank staan en weet dat die plank nie in die lug kan dryf nie, leef ons in die huidige wêreld en ons sien sekere dinge. Ons ervaar wette van logika wat universeel, onveranderd, nie-materieel en tydloos is. Ons ervaar ook objektiewe morele waardes, eenvormigheid in die natuur, betroubaarheid van ons sintuie en menigte ander dinge. Soos die duiker rekenskap gee vir die plank waarop hy staan (dit moet in die grond geanker wees), moet ons rekenskap kan gee vir hierdie ervarings en slegs die Bybel kan vir ons die volledige prentjie gee om rekenskap te kan gee van ons ervarings. Die anker is 'n voorvereiste vir die duiker om op die plank te kan staan; net so is die drie-enige God, soos geopenbaar in Sy Woord, 'n voorvereiste vir ons om sin te kan maak van ons realiteit.


Die Bybel is waar, want dit sê so (sal mens verwag dat dit nie so moet sê nie?), en dit kan objektief bewys word: Die Bybel bied 'n vaste fondament waarop ons kan bou en kan sin maak uit die lewe. (Lees meer oor hierdie konsep, in die boek, The Ultimate Proof of Creation, deur Dr. Jason Lisle).


'n Laaste aanval kan geloots word: Maar wat van ander gelowe? Kan die Koran nie ook sin maak uit die realiteit nie? Kortliks, nee, omrede die Bybel leer dat alle ander gelowe vals is, en verder, binne die Islamitiese geloof bestaan daar konsepte en leerstellings wat dié geloof self weerspreek. Dieselfde geld vir alle nie-Christelike gelowe. Ons sal hieroor ook gesels in die artikels hierna.


Ten slotte


Die Gereformeerde apologetiese metode, soos uiteengesit in die Skrif, vereis nooit van ons dat ons die gesag van die Bybel opsy moet skuif om met wêreldse argumente die stryd te voer nie, maar eerder dat ons die Skrif as ons swaard en skerpste wapen gebruik.


Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.

Johannes 17:17


Published by Apologetics Central

At Apologetics Central, we are committed to providing biblically grounded, Reformed presuppositional apologetics resources to equip believers in defending the Christian faith. As a ministry, we strive to uphold the truth of God's word and present it winsomely to a world in need of the gospel.

bottom of page