Die mens: Skepsel na die beeld van God
Arne Verster9 min read
Aa
In die Rapport van 15 November 2020 was daar 'n uittreksel uit die nuwe boek van Ben Du Toit geplaas met die titel, 'Die mens: Antwoord en ook skepper'.

Die uittreksel begin deur die bekende probleem van kwaad en lyding aan die leser te stel. Hoe kan Christene konsekwent bely dat God almagtig, alwetend en liefdevol is, terwyl ons leef in 'n gebroke wêreld van lyding en seer? Dit is 'n vraag wat ons diep kan tref, veral wanneer ons self sulke lyding en onreg moet verdra. Du Toit se ou antwoord, wat nie meer vir hom deug nie, was in die misterie van God se wil te vind. Sy nuwe antwoord is om weg te beweeg van geloof in God af en eerder 'n soort eksistensialisme te omhels waar hy as mens sy eie lot bepaal in 'n realiteit waar daar geen "metafisiese mag of God as Skepper betrokke is nie".
Volgens Du Toit is die waarheid van wat die mens is soos volg: die mens is 'n produk van 'n evolusionêre, biologiese en (hy noem dit spesifiek) goddelose proses. Du Toit se brein "beheer hom en is onvoorspelbaar en kompleks". Die ironie is dat hierdie "waarheid" 'n self-weerleggende pseudo-antwoord op die probleem is.
Du Toit se "antwoord" op die probleem van kwaad en lyding is dus om die bestaan van die Skepper God te ontken. Sy antwoord op die ma wat haar kind verloor het, of die vrou wie se man op die oorlogsveld gesterf het, is eenvoudig: wat met die mens op aarde gebeur, is maar net; daar is nie reg of verkeerd nie, net blinde, onbeholpe onverskilligheid. Die sterkes oorleef en die swakkes sterf (dit is die essensie van Darwinisme). Of jy nou dink dat dit wat gebeur reg of verkeerd, goed of kwaad is, is jou subjektiewe saak. Vir Du Toit is daar dus nie meer 'n probleem van kwaad en lyding nie. Hy redeneer die probleem weg deur die mens se plek as skepsel te ontken.
Hoe kan 'n Christen 'n antwoord op Du Toit bied? Die uittreksel gee ons 'n goeie geleentheid vir die toepassing van . Volgens "aanvaar" die Christen dat wat Du Toit skryf korrek is, om sodoende die dwaasheid van sy woorde aan die kaak te stel. Indien die "antwoord" sou lê waar Du Toit dit wil plaas, is daar geen standaard om te bepaal of iets objektief reg of verkeerd is nie. Lyding en kwaad is dan nie 'n probleem nie; dit is normaal en dryf die evolusionêre proses. As iemand jou beursie steel, is dit niks meer as 'n meningsverskil nie. Du Toit se nuwe anti-Christelike siening kry hom uit die probleem van kwaad en lyding uit, maar hy blyk heel gelukkig onbewus te wees van die drastiese gevolge van sy nuwe wêreldbeeld.
Hy bevind homself nou vasgestrengel in 'n egosentriese verknorsing. Al wat Du Toit het, is sy subjektiewe opinies, gevorm deur 'n self-erkende "onvoorspelbare" brein, sonder enige regverdiging om uitlatings te maak oor die objektiewe realiteit buite hom. Dit het gevolge vir moraliteit (soos hierbo bespreek), maar ook vir alle ander kennis wat die mens kan bekom (of, volgens Du Toit, dink hy kan bekom). Du Toit se brein is onvoorspelbaar en die produk van 'n blinde proses wat hom voortgebring het vir net een doel: om voort te plant. Dink daaraan: sal jy jou laat opereer deur 'n dokter wat oor 'n "onvoorspelbare" brein beskik wat slegs vir voortplanting geselekteer is?
Du Toit kan nie, deur vertroue op sy onvoorspelbare verstand, sy antwoord as 'n objektiewe werklikheid bied nie, omdat sy verstand hom om die bos sal lei as dit enigsins 'n voortplantingsvoordeel daaruit kan kry. Enige stelling wat hy maak, soos byvoorbeeld, "Kennis van jouself is die bron van geluk en vrede", asook, "Ek is die resultaat van 'n biologiese proses" is ook gevorm deur sy onvoorspelbare brein en is op die beste 'n subjektiewe interpretasie deur dié brein.
Du Toit se wêreldbeeld is doodgebore wanneer dit op grond van sy eie stellings ondersoek word. Elke woord wat hy skryf is inkonsekwent met wat hy bely oor wie hy is. Hy skryf nie met groot woorde, mooi vergelykings en metafore omdat hy 'n onvoorspelbare brein en toevallige produk van kans is nie. Die vrees van die Here is die begin van kennis (vlg. ). Deur die Skepper te ontken verloor Du Toit onder andere 'n standaard vir objektiewe moraliteit, 'n begronding vir die wette van logika wat noodsaaklik was om sy boek te skryf, en 'n regverdiging vir die uniformiteit in die natuur wat 'n sentrale aanname is in die ontwikkeling van die evolusionêre teorie wat die grondslag van sy nuwe wêreldbeeld vorm (vlg. Bahnsen vs Stein).
Deur die toepassing van gee die Christen die ware antwoord op die probleem van kwaad en lyding en op Du Toit se siening, vanaf 'n Christelike wêreldbeeld. Die mens is nie die produk van 'n lang evolusionêre proses nie. Die mens is uniek geskape na die beeld van God, en die Here openbaar dat Hy die mens goed geskape het. Die mens het waarde. Daarom dui dit op 'n abnormaliteit as 'n mens ly, swaarkry of sterf (vir Du Toit nou 'n normaliteit).
Die rede vir hierdie kwaad en lyding wat ons ervaar is sonde. Die antwoord is nie, soos Du Toit wil hê, dat die kwaad eintlik net normaal is nie. Sonde is wanneer mense, soos Du Toit, probeer ontken dat hulle skepsels na die beeld van God is en eerder probeer om hulle eie god (“skepper” soos Du Toit dit stel) te wees (vlg. Genesis 3). Wanneer dit die geval is, dan leer die Bybel ons dat die denke van die ongelowige donker en dwaas word (vlg. Efesiërs 4:17-21, ) soos hulle rebelleer teen hulle Skepper.
Wanneer ons, as wedergebore Christene, reg dink as skepsels in die skepping van die drie-enige God, dan kan ons enige kwaad objektief aanspreek en veroordeel, want God self dien as die standaard vir wat reg en verkeerd is, en God self sal op die dag van oordeel alle reg laat geskied (vlg. Openbaring 21). Boonop verskaf die Here vir sy kinders 'n groot troos wanneer swaarkry hulle tref: alles sal ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet (vlg. Romeine 8). Dit beteken nie dat alles goed sal gaan (in die materiële sin) nie, maar dat die Here omstandighede gebruik om mense al hoe meer soos Christus te vorm - en dit is wat elke Christen begeer.
Maar nou, as God almagtig, alwetend en liefdevol is, hoekom laat Hy die swaarkry toe? En is God verantwoordelik vir die sonde van mense? Dit is die vraag waarvoor Du Toit nooit 'n antwoord kon kry nie. Die Gereformeerde (mag ek sê Bybelse) tradisie kan 'n antwoord gee (vlg. Johannes Calvyn, Guillaume Bignon): God is die soewereine Koning van Konings en niks kan gebeur as die Here dit nie so bepaal het nie. Die Bybel leer ons baie duidelik dat die Here sondige aksies van mense bestuur, en dat Hy dit tot 'n goeie doel bestuur (vlg. ). Dit is nie toevallig dat Josef as slaaf Egipte toe verkoop is nie. Die Here het die sondige begeertes van sy broers (wat hom aanvanklik wou doodmaak) ingeperk sodat hulle hom net verkoop het, en so kon die Here deur hulle sonde 'n goeie werk na vore bring. Die Here is die enigste een wat die sonde kan toelaat, en dit vir 'n goeie doel kan doen. Die rede hoekom die meeste mense nie hierdie antwoord sal aanvaar nie, is omdat dit die Bybelse lering van die totale verdorwenheid van die mens voorveronderstel (vlg. ). Die mens begeer reeds die kwaad; die Here perk dit slegs in en bewerk sy wil.
Laastens, die mens se verstand is nie onvoorspelbaar en die produk van toeval nie. Dit is deur die Skepper ontwerp om die Skepper te openbaar, en om die natuur om ons op 'n geordende manier te ondersoek. Dus, in kontras met Du Toit, sê die Christen: "Ek is geskape na die beeld van God en het ontsaglike waarde", en "Kennis van God en wat Hy vir my as sondaar gedoen het is die bron van geluk en vrede". Die Christen het vaste grond om dit op 'n objektiewe wyse te sê: 'n regverdiging vir moraliteit en vir die wette van logika wat in God begrond is, en 'n regverdiging vir die uniformiteit in die natuur wat deur God geskep is en steeds onderhou word. Hierdie kontras tussen Du Toit se siening van die mens en die Bybelse (ware) siening bring die antitese tussen die twee na vore. Du Toit vernietig rasionaliteit; die Christelike wêreldbeeld begrond dit. As dit die geval is, hoekom kan Du Toit dan redeneer en skryf soos hy doen? Want alhoewel hy dit ontken, is hy nie wie hy skryf hy is nie. Hy is beeld van God, geskape met sekere gawes en met 'n morele verpligting teenoor die God wat hy in ongeregtigheid probeer onderdruk (vlg. ).
Die wonder van die Christelike wêreldbeeld lê daarin dat God (Jesus Christus, tweede persoon van die drie-eenheid) mens geword het en gesterf het vir die sondes van rebelle soos ek en Ben (vlg. Romeine 5) sodat ons regverdig kan word in die oë van die Vader as ons vertrou op die versoening van Jesus Christus. Die Here gaan 'n end maak aan die kwaad en lyding; dit is vas en seker. Die probleem is dat sonde die oorsaak is, en dat die mens, in sy natuur verdorwe en deurtrek van sonde, vernietig sal moet word as die Here daaraan 'n end wil maak. Mense wat kla dat die Here sonde en lyding toelaat, vergeet al te vinnig dat hulle self deel is van die probleem wat hulle voor die Here se deur lê. Oppas waarvoor jy vra, en klou eerder aan die voete van Jesus wat die verdiende straf vir jou goddeloosheid en sonde gedra het. By Hom is die antwoord op jou pyn, en daar kan jy rus vind, want Hy het reeds betaal. Moenie vra dat die Here regverdigheid sal laat geskied nie; smeek eerder om genade. Die Here sal 'n end maak aan die sonde, maar teen daardie tyd is dit te laat om jou te bekeer. Daar is nog tyd. Bekeer en glo die evangelie.