Inhoud
Inleidende opmerkings
Teen die probleem van euwel
Wat die Skrif ons leer
Berus in die misterie
1. Inleidende opmerkings
Die probleem van euwel handel oor die skynbare teenstrydigheid tussen die bestaan van 'n almagtige, alwetende, goeie God aan die een kant, en die bestaan van euwel aan die ander kant. Ons kan die probleem van euwel as volg uiteensit:
Premis 1: As God almagtig, alwetend, en goed is, dan sal Hy euwel keer.
Premis 2: Daar is euwel.
Konklusie: Daar is nie 'n almagtige, alwetende, goeie God nie.
Bogenoemde is die filosowe se mymeringe oor die probleem van euwel. Maar ons moenie die fout maak om te dink hierdie probleem word net aangetref op witborde nie. Watter Christen het nog nie in sy hart gevra nie, “Waarom, God?” Die moeder wat staan by 'n oop graf, die slagoffers van molestering, die sondaars wat uitroep om bevryding – hulle almal ken die probleem so goed soos die geleerdes en beter. Die probleem van euwel onderskei nie in IK nie.
Nog 'n fout wat ons kan maak is om die probleem te benader asof God niks daaroor te sê het nie. Die hele Bybel gaan oor die probleem van euwel. Hoe sal God triomfeer oor euwel? Deur Jesus Christus. Dit is die fokuspunt van die ganse Skrif. So wanneer ons soek vir antwoorde op die probleem van euwel, dan moet ons dit met oop Bybels doen.
In hierdie artikel wil ek twee dinge doen. Eerstens wil ek uiteensit die verskillende gronde waarop ons die argument teen God op grond van euwel – soos hy hierbo uiteengesit is – kan verwerp. Ons werk negatief en skiet die argument af op sy eie terme. Tweedens wil ek kyk na hoe 'n Bybelse antwoord op die probleem van euwel lyk. Ons werk dan positief en kyk wat God ons gee om mee te werk in ons bespreking van die probleem van euwel. Kortom: Eerste skiet ons die ateïstiese argument teen God af; tweede kyk ons na die antwoorde wat God genadiglik vir Christene gee.
Maar voor ons dit doen, net een laaste opmerking: Daar's nog baie wat gesê kan word oor die probleem van euwel wat ek hier nie sê nie. Hierdie artikel is nie die finale sê op die saak nie (en dit moenie so gelees word nie).
2. Teen die probleem van euwel
2.1. Geen goeie rede?
As ons die probleem van euwel vat soos ek dit hierbo uiteengesit het, dan sien ons dit is 'n probleem van onversoenbaarheid. In eenvoudige Afrikaans: Die argument sê dat die bestaan van God en die bestaan van euwel onversoenbaar is: 'n Almagtige, alwetende, goeie God aan die een kant, en regte-egte boosheid aan die ander kant kan nie saam bestaan nie. En omdat dit so duidelik is dat euwel regtig bestaan, word dan geargumenteer dat God daarom nie bestaan nie.
Die argument is so oortuigend omdat dit twee waarhede bevat, soos Oliphint (bl. 167) tereg uitwys:
God se karakter is onversoenbaar met boosheid.
Boosheid bestaan regtig.
Elke opregte Christen weet dat altwee hierdie stellings waar is. Die Skrif erken ook die waarheid van altwee stellings. So hoe moet ons antwoord op hierdie probleem?
Wel, wat ons moet raaksien is die onderliggende aanname van die argument. Die onderliggende aanname van die argument is dat God geen goeie rede kan hê om boosheid te beskik nie. Want sien, as dit moontlik is vir God om 'n goeie rede te hê, dan misluk die argument, want dan is die twee stellings (God bestaan en euwel bestaan) nie onversoenbaar nie. As God 'n goeie rede kan hê om euwel te beskik, dan kan euwel bestaan sonder dat dit impliseer dat Hy nie beheer daaroor het nie.
Sien, die eerste premis van die argument, is:
As God almagtig, alwetend, en goed is, dan sal Hy euwel keer
Maar as God 'n goeie rede het om euwel te beskik - selfs net een goeie rede - dan is dit nie so dat Hy noodwendig euwel sal keer nie. Dan val hierdie eerste premis.
So voor die argument geldig is, moet hierdie aanname eers bewys word. Anders misluk die eerste premis. Solank daar selfs net een moontlike rede is vir God om boosheid te beskik is die bestaan van God en die bestaan van euwel versoenbaar! So die vraag wat ons vir die ongelowige moet vra, is 'n hoe-weet-jy-vraag: Hoe weet jy dat God nie dalk 'n goeie rede het om boosheid toe te laat nie? Hoe weet jy dat die bestaan van euwel noodwendig die bestaan van God uitsluit?
Hierdie vraag trek reeds die tande van die tier. Die argument verloor sy krag wanneer ons besef hoe moeilik (onmoontlik?) dit is om te argumenteer dat 'n oneindige God geen goeie rede kan hê om boosheid toe te laat nie. Want sien, die argument rus op die noodwendige onversoenbaarheid van die bestaan van God en die bestaan van euwel. As hierdie pillaar nie ondersteun word nie, val die hele huis inmekaar.
Omdat dit so moeilik sal wees om te bewys dat God regtig geen rede kan hê om euwel toe te laat nie, onderskei baie ateïste tussen die logiese en die evidensieële probleem van euwel. Basies wat hulle sê is dat dit nie onmoontlik is dat God 'n goeie rede het om boosheid te beskik nie, maar dat dit in elk geval onwaarskynlik is.
Maar selfs hierdie getemde weergawe van die probleem van euwel staan volgens my nog op vuurhoutjies. Daar is nogsteeds twee vrae wat beantwoord moet word:
Hoekom is dit onwaarskynlik dat God 'n goeie rede het vir die boosheid?
Hoe bepaal jy wat waarskynlik is vir God en wat nie?
Wat die eerste vraag betref: Dit is nie genoeg om te sê dat dit onwaarskynlik is dat God 'n goeie rede het nie. Hoekom is dit onwaarskynlik? Hoe weet jy dis onwaarskynlik? Dit moet nog eers bewys word - ons kan dit nie sommer net aanvaar nie.
Die tweede vraag volg dan natuurlik: Hoe bepaal ons dan wat waarskynlik is vir God en wat nie? Is dit nie alreeds raaiwerk wanneer ons besig is met waarskynlikheid buite die grense van wiskunde nie? Hoeveel te meer so wanneer die objek van ons bespreking (God) oneindig is! In 'n oneindige God kan daar 'n oneindige aantal redes wees. Hoe sal ons dan begin om te bepaal wat waarskynlik vir Hom is en wat nie? Is dit selfs moontlik?
Een laaste sakie wat ek hier net wil uitlig: As ek praat van redes wat God het om sekere dinge te doen, dan bedoel ek redes wat alles binne God self is. Daar's nie 'n wese buite of bo Hom wat Hom gedwing het om euwel te beskik nie. Dit is steeds God wat in sy soewereiniteit beskik dat daar euwel plaasvind. Maar in sy soewereiniteit het Hy redes vir sy besluite. En alvorens Hy self geen goeie rede kan hê om iets te doen nie, kan ons nie sê dat Hy dit nooit sal doen nie.
2.2. Regte euwel -> regte goedheid -> regte God.
Op hierdie punt gaan ek nie te baie uitbrei nie. Dit is waarskynlik die eenvoudigste antwoord op die probleem van euwel. Arne het dit goed uiteengesit in hierdie artikel, so as jy dit in meer besonderhede wil lees, daar's dit. Ek sal sy argument so opsom:
Die probleem van euwel veronderstel dat daar regtig 'n verskil is tussen goeie en slegte dinge.
Maar sonder God kan ons geen (objektiewe) onderskeid tref tussen goeie en slegte dinge nie.
So die probleem van euwel veronderstel dat God bestaan.
So word die probleem van euwel 'n probleem vir Christene, en nie vir ateïste nie. Die argument is gerig teen die Christelike wêreldbeskouing, maar dit staan ook op die Christelike wêreldbeskouing, so dit pleeg 'n tipe selfmoord.
Nog kan hieroor gesê word (dit is, byvoorbeeld, streng gesproke skuldig aan die tu quoque "fallacy"). Maar vir nou sal ons aanbeweeg na wat die Skrif wel vir ons sê oor die probleem van euwel.
3. Wat die Skrif ons leer
Frame (in sy boek Apologetics) wys vir ons op twee dinge wat die Skrif ons leer:
Die probleem van euwel is op die ou end 'n misterie.
Maar God gee ons tog verskillende “perspektiewe” op sy redes.
Die HERE gee nie vir ons 'n finale menslik-bevredigende antwoord nie. Hy skuld ons dit ook nie. God het sy redes, maar Hy hoef nie vir ons te sê wat dit is nie. Tog gee Hy vir ons verskillende “perspektiewe” op die saak. Frame wys ons op drie perspektiewe:
Normatief: God Maak Die Reëls.
Situasioneel: Die Grootsheid van God se Verhaal.
Eksistensieel: God Gee vir Ons 'n Nuwe Hart.
Net so terloops, as jy al bietjie van Frame se werke gelees het dan sal jy al afgekom het op wat hy multiperspektivalisme noem. Hierdie is basies 'n toepassing van sy multiperspektivalisme op die probleem van euwel.
3.1. Op die ou end 'n misterie.
God het sy redes: Hy is nie 'n kosmiese Mafia-baas wat 'n verdraaide genot put uit die lyding van sy skepsels nie. Hy laat nie euwel toe sommer net nie. Hy het sy redes. En sy redes is goed.
Maar Hy kies om sy redes nie met ons te deel nie. Nie in hierdie lewe nie (en dalk selfs nie in die ewigheid nie). En dit is heeltemal regverdig van Hom. Hy mag openbaar wat en soos Hy wil.
Daarom dink ek Frame is wys as hy skryf (bl. 158): "My own verdict is that we are unlikely to find complete answers to all these questions [about the problem of evil] - answers, that is, that are not subject to further questions."
God gee vir ons antwoorde, maar geen van hierdie antwoorde is so dat jy nie nog vrae daaroor kan vra nie. Altyd kan ons nog wonder: "Maar hoekom beskik God iets wat so teen sy karakter is?" Op hierdie vrae gee God nie vir ons 'n finale, menslik-bevredigende antwoord nie. Maar Hy gee wel vir ons antwoorde van 'n ander soort. "If what you want is encouragement to go on believing in the midst of suffering, Scripture provides that, and provides it abundantly. If you want help to go on trusting God despite unexplained evil, yes, we can help." (Frame, bl. 158-159).
Dit is hierdie soort antwoorde wat Frame vir ons verder gee, en wat ek nou hier gaan bespreek. Dit is nie antwoorde wat finaal, mesnlik-bevredigend is nie. Maar dit is Bybelse antwoorde wat vir ons verskillende perspektiewe op die probleem van euwel gee. Hier is dan die drie perspektiewe op die probleem van euwel:
3.2. Normatief: God Maak Die Reëls.
Ons oordeel nie vir God nie. Hy maak die reëls, en daarom oordeel Hy. Ons sien dit in Job. Toe Job gevra het vir 'n regsaak met God het God hom dit toegestaan, maar dit het bietjie anders verloop as wat hy verwag het. Die HERE ag dit nie nodig om Homself teen Job te verdedig nie. Inteendeel! Job is die een wat verantwoording moet doen vir sy woorde (Job. 38). Die uiteinde van die storie is dan ook dat Job bely, “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.” (Job. 42:5-6).
In Romeine 9 is Paulus besig om oor die probleem van euwel te skryf. In 9:14 vra hy of daar onreg by God is omdat Hy Esau gehaat het nog voor hy gebore was. Hy antwoord, “Nee, stellig nie!” Maar hoekom nie? Hy verduidelik in 9:15: “Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Die HERE maak die reëls – nie ons nie. Hy is die maatstaf vir Homself. Die mens wat dan nog met God wil redekawel is soos 'n kleipot wat vir die Pottebakker vra waarom hy so gemaak is (9:20-21).
3.3. Situasioneel: Die Grootsheid van God se Verhaal.
Die ganse wêreldgeskiedenis het ten doel om God te verheerlik. Christus se gehoorsaamheid aan sy Vader, sy kruisdood, sy verlossing van sondaars, sy genoegdoening vir ongeregtigheid, God se seëviering oor ongeregtigheid in die hel – dit alles verheerlik die HERE. Dit alles vorm deel van 'n groter prentjie wat inderdaad mooi is.
En hierdie is een van die redes waarom God slegte dinge (ja, selfs sonde) beskik: Sodat Hy daardeur verheerlik kan word. Kyk byvoorbeeld na Romeine 9:17: “Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.” So God beskik slegte dinge (Hy verhard Farao se hart) sodat Hy daardeur Homself kan verheerlik.
Natuurlik het ons nog vrae: Kan God Homself nie verheerlik sonder om soveel euwel te beskik nie? Hoe kan Hy sy heerlikheid verkondig deur iets wat teen sy karakter is? Kan God nie sy heerlikheid verkondig sonder om klein babatjies te laat ly nie? God gee nie vir ons 'n finale antwoord op hierdie vrae nie (dit bly 'n misterie). Maar ons kan tog getroos word met Romeine 8:28: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” God se redes bly 'n misterie. Maar ons kan weet dat sy eer verkondig word selfs deur slegte dinge.
3.4. Eksistensieel: God Gee vir Ons 'n Nuwe Hart.
Die natuurlike mens kan nie berus by God nie. Hy kan nie aanvaar dat God die reëls maak nie. Hy wil nie glo dat God Homself hierdeur verheerlik nie. Maar God bring 'n eksistensiële verandering: Hy gee vir ons 'n nuwe hart. En dan begin ons nuut dink oor lyding in ons lewe. Dis nie asof ons lewe oornag maanskyn en rose word nie. Maar met die oog van die geloof sien ons God se heerlikheid raak. Met 'n veranderde hart kan ons aanvaar dat God die reëls maak.
In Psalm 73 worstel Asaf met die probleem van euwel. Hy skryf in vers 2, “wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly.” Waarom het sy voetstappe byna uitgegly? Want die goddelose mense is voorspoedig (vers 3-12). Asaf wonder dan watter nut daar eintlik is in 'n godvresende lewe. Hy skryf, “Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.” (vers 13). Hy vertel dan dat hy self – die godvresende een – teëspoed ervaar. Hoe kan dit wees?
Asaf se worstelinge word egter nie daar gelaat nie. Nee, hy skryf dat dit moeite was om hierdie dinge te verstaan, “totdat [hy] in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.” (vers 17). Wanneer hy in God se teenwoordigheid ingaan, dan word sy hart verander om later in die Psalm te sê, “U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart—God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.” (vers 23-26).
In die teenwoordigheid van die HERE kan Asaf berus. En daar – in die heiligdomme van God, met 'n nuwe hart – is vir my en jou ook rus. Daar besef ons dat ons nie al die antwoorde het nie. Daar aanvaar ons die HERE se verhewe goedheid.
4. Berus in die misterie
Te veel teoloë en filosowe is bereid om dit wat die Bybel leer op te offer ten einde 'n menslik-bevredigende antwoord op die probleem van euwel te vind. Dit is nie die regte benadering nie. As God ons met 'n misterie laat, laat ons die misterie as sulks aanvaar. Laat ons nie probeer om die misterie op te droog en in die proses God se woord ondermyn nie.
Maar hoe nou? Is dit dan nie 'n toegewing tot “blinde geloof” nie? Argumenteer ek dan dat ons geloof eintlik wel 'n kinkel in die kabel het? Volstrek nie. 'n Misterie is nie dieselfde as 'n teenstrydigheid nie. Vir 'n misterie is daar 'n oplossing – maar God het ons nie die oplossing bekendgemaak nie. Hy het sy redes. Maar Hy gee dit nie vir ons nie.
Dat daar egter misteries is – dit is heeltemal in lyn met 'n Bybelse wêreldbeskouing. As God werklik so groot is soos die Bybel leer, dan kan ons verwag dat Hy dinge sal doen wat ons nie verstaan nie. Soos God self sê in Jesaja 55:8-9: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” So as God werklik is wie Hy is, dan kan ons aanvaar dat Hy dinge gaan doen wat ons nie verstaan nie.
Vrae:
Wat is die probleem van euwel?
Is die probleem van euwel net vir geleerde mense?
Het jy al gewonder hoe 'n goeie God soveel boosheid kan toelaat?
Hoekom klink die probleem van euwel so oortuigend?
Wat kan mens negatief sê as verdediging teen die probleem van euwel?
Wat kan mens positief sê as antwoord op die probleem van euwel?
Watter drie perspektiewe noem Frame?
Hoekom is "misterie" nie 'n "blinde geloof" nie?
As iemand jou vra hoekom 'n goeie God soveel slegte dinge toelaat, wat sal jy hom nou antwoord?
Bronnelys:
Frame, J.M. 2015. Apologetics: A Justification of Christian Belief. P&R.
Oliphint, K.S. 2013. Covenantal Apologetics: Principles & Practice in Defense of Our Faith. Crossway.
Comentarios