God se woorde aan Moses: “Ek is wat Ek is” (Eksodus 3: 14) illustreer soveel wonderlike en asemrowende eienskappe van God se almag. “Ek is wat Ek is” beteken dat God in sy almag uniek is. Hy is wat Hy is: Hy is almagtig en daar is niemand soos Hy nie. Hy is in sy diepste wese die hoogste vorm van uniekheid wat deur geen menslike begrip saamgevat kan word nie. Ja, God gebruik wel die woorde “Ek is wat Ek is” om sy almag, alomteenwoordigheid en absolute uniekheid te verduidelik, maar steeds verstaan ons as eenvoudige mense maar bitter min van sy almag. Ons sal nooit sy almag ten volle kan verstaan en begryp nie, aangesien dit te hoog en ver bo ons begrip is. Hoe interessant is dit nie: deur vyf woorde illustreer God vir ons genoeg van Homself sodat ons kan verstaan, en tog wys Hy terselfdertyd daardeur dat Hy ook so kompleks, uniek en almagtig is dat ons nie eers kan begin om te dink hoe almagtig Hy is nie.
Die ongelowige individue wat die Skepper bevraagteken, is lief daarvoor om die Franse filosoof René Descartes se woorde “Ek dink, daarom is ek” aan te haal. Descartes se woorde beklemtoon ’n sterk vorm van subjektiwiteit. Dit is ironies om te sien hoveel ateïste hierdie woorde aanhaal asof dit in objektiwiteit gefundeer is. Hulle dekontekstualiseer dus hierdie woorde vanuit die subjektiewe na die objektiewe. Daarin is een van die primêre problematiese eienskappe van ongeloof saamgevat. Dit is maklik om die subjektiewe perspesie, waarneming en opinie van die individu voor te hou as objektief, maar die groot vraag in hierdie verband is: wanneer gaan dit so ver dat dit in solipsisme ontaard? Solipsisme is die filosofiese oortuiging dat daar niks buite die subjektiewe bewussyn bestaan nie. Die primêre gevaar van solipsisme is dat dit God en sy skepping negeer – dit is niks anders as ’n geval waar die individu aanvoer dat God en enige deel van God se skepping wat ekstern in verhouding tot die individu staan, eintlik net ’n illusie is. ’n Mens merk byvoorbeeld hierdie solipsistiese benadering op by denkers van die sogenaamde “Truth Movement”. David Icke is beslis een van die denkers van laasgenoemde beweging wat met solipsisme flirteer. Veral ten opsigte van sy uitgangspunt dat aardse realiteit asook die buitenste ruimte alles ’n illusie is.
Icke voer gedurig tydens sy openbare redes aan dat die mensdom aan ’n universele illusie uitgelewer is. Terselfdertyd ontken hy ook individuele subjektiwiteit en voer aan dat al die verskeie individue regoor die wêreld deel vorm van ’n universele bewussyn en onbewussyn.
Hierdie universele onbewussyn bestaan as onbewuste iewers in ’n metafisiese raamwerk en die individu poog om daarheen terug te keer. Dit herinner aan Plato se teorie van die “wêreld van idees” waarheen die siel wil terugkeer, omdat dit uit voeling is met die afbeeldings van ons aardse realiteit. Volgens Icke transformeer die universele onbewuste tot ’n universele bewussyn wanneer ons almal op kollektiewe wyse deur die universele illusie breek en ons volle potensiaal bereik. Hoewel ek persoonlik respek het vir die wyse waarop Icke in die verlede sekere korrupte handelinge van regeringsamptenare aan die lig gebring het en hoewel ek ook respek en deernis het vir die wyse waarop hy veg vir humanitêre waardes, kan ek myself nie vereenselwig met sy solipsisme nie. Solipsisme ontken in sy wese vir God as die “Ek is” van die skepping. Dit poog as’t ware om die individuele bewussyn en subjektiwiteit op ’n spreekwoordelike troontjie te plaas vanwaar dit valslik verkondig dat die individu die primêre bepalende faktor van alledaagse realiteit is.
Dit herinner aan God se woorde aan Job in Job 38: 4-7: Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? (1983-vertaling).
Hierdie woorde van God aan Job illustreer dat geeneen die reg het om Hom of sy skepping te bevraagteken nie. Wanneer jy, soos Icke, redeneer dat die skepping ’n illusie is, poog jy om vir God tot ’n nietige wese te verklaar. Verder poog jy ook om God af te maak as ’n bedrieër wat die mensdom vir die gek probeer hou het deur tydens die ses dae van skepping aan ons ’n “illusie” te gee in plaas van ’n pragtige skepping wat van sy almag getuig.
God het deur sy kragtige handewerk ’n leemte tot iets gemaak. Hy is die enigste Wese wat daarop kan roem dat Hy iets uit niks uit kan skep. Hy het dit ook gedoen deur bloot woorde te spreek. Hy het nie nodig gehad om fisies met sy hande te werk te gaan nie. God se wonderbaarlike skepping is die primêre rede waarom die evolusieteorie in sy geheel en veral ten opsigte van die idee dat iets toevallig uit niks ontwikkel het, in totale absurditeit verval. God het iets uit niks geskep omdat Hy die hoogste vorm van intelligensie in die skepping is. Hy is die enigste ware lewende God en kan bloot deur gesproke woord ’n skepping tot stand bring.
’n Ruimtereisiger weet dat hy elke oomblik in die ruimte ten volle afhanklik is van sy suurstof om hom aan die lewe te hou. Hy gaan nie skielik sy suurstoftoevoer afhaal, dit eenkant gooi en verkondig “ek sal sonder suurstof oorleef!” nie. Dit is waansinnig. Die ongelowige wat God uit die skepping probeer haal, doen presies dit: sy subjektivisme verblind hom so dat hy sonder die Skepper probeer leef. En dit is ’n fatale fout, om die minste te sê.