Normatiwiteit as standaard waarvolgens iets beoordeel word, voorveronderstel dat logika binne sigself ’n betekeniskern van analise beliggaam. Sodoende onderskei individue byvoorbeeld op rasionele wyse tussen geregtigheid en ongeregtigheid. Dit veronderstel dat daar ’n maatstaf moet wees waaraan iets moet voldoen om as regverdig beskou te word (Strauss 2009: 41-42, 92-93).
Die maatstaf moet egter in objektiwiteit gefundeer wees, anders verval dit bloot in ’n subjektiewe perspektief van dit wat die individu as geregtigheid beskou. Indien subjektivisme die oorhand kry, word die individuele persepsie van geregtigheid die maatstaf waarvolgens iets beoordeel word en word dit sodoende aan relativisme uitgelewer.
Indien relativisme die oorhand kry, bestaan die gevaar dat logika as proses van logiese konsep-formasie in ’n profaniteit van onlogiese konsep-formasie kan verval. Gevolglik kan die teufelskreis (gewelddadige sirkelgang) ’n normatiewe faktor word waarbinne onlogiese konsep-formasie as ’n standaard voorgehou word.
Wanneer daar gelet word op die komplekse eienskappe en algemene funksionering van die menslike brein se frontale lob ten opsigte van onder andere argumentering en logika, is dit waansinnig om evolusie as proses waaruit die mens en sy brein kamtig ontwikkel het, voor te staan. Die normatiwiteitsfaktor is byvoorbeeld ’n proses waarvolgens menslike beredenering tussen logiese en onlogiese konstrukte onderskei.
Dit op sigself voorveronderstel ’n objektiewe wese wat invloed op die mens uitoefen om met behulp van logika te onderskei tussen moraliteit en immoraliteit; tussen etiese en onetiese optrede. Hiervolgens kan die individu, volgens Strauss (2009: 41), verder onderskei tussen dit wat reformatories en dit wat revolusionêr is.
God as almagtige, onveranderlike, absolute en suiwer Wese beliggaam in sy ontologiese Wese ’n objektiewe determinisme waarmee Hy direkte invloed op menslike denkprosesse, vloei van bewussynstrominge en algemene rasionaliteit uitoefen. Jesus Christus illustreer hierdie feit baie duidelik wanneer Hy in Matteus 5: 1-12 die saligsprekinge as deel van die bergpredikasie lewer.
Om een van sy saligsprekinge as voorbeeld te gebruik:
“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matt 5: 6)(1933-vertaling).
Hierdie saligspreking dui op Jesus se logiese beredenering as objektiewe Wese ten opsigte van die juridiese aspek in terme van goddellike geregtigheid. Dit is woorde wat troos bring, want die individu weet dat ongeag hoeveel ongeregtighede op aarde plaasvind, daar wel met die wederkoms ’n finale oordeel sal wees waar diegene wat ongeregtigheid laat geskied het, geoordeel sal word en die lex talionis-beginsel deur middel van God se volmaakte begrip van geregtigheid in werking sal tree.
Dit spoor die individu wat sy identiteit in Christus vind aan om nie wraak te neem nie, want die wraak kom God alleen toe. Die individu bly biddend en hoopvol volhard in die wete dat God se oordeel goed is. Hierdie wete wat die individu het ten opsigte van God se volmaakte begrip van geregtigheid, is ’n bevrydende wete.
Dit is opvallend dat Strauss (2009: 92) daarop wys dat daar by die biotiese aspek ’n afwesigheid van bewussyn is. Hiervolgens is dit ’n gegewe dat die mens as lewende wese wat na God se beeld geskape is, ’n bewussyn het en dus baie meer as net ’n blote biotiese wese is. Hier word die evolusieteorie weereens ’n harde hou toegedien, want die evolusieteorie is immers van uitgangspunt dat die mens ’n blote biotiese wese is wat aan toeval uitgelewer is.
Die toeval waaraan die individu volgens die evolusieteorie uitgelewer is, sorg vir ’n ontroosbare lyding en algemene uitsigloosheid. Dit veronderstel ’n donker triade waarin lyding, skuldgevoelens en betekenisloosheid die voorrang geniet. Dit skets die prent van ’n menslike individu as blote biotiese wese wat in direkte kontras is met die beeld wat die Bybel van die mens skets.
Volgens die Bybelse uitbeelding van die mens, is ons in sonde ontvang en gebore en het ons aan die verdoemenis in Adam deel. Maar die Bybel is telkens baie duidelik oor die feit dat die mensdom verlossing vind in Christus Jesus as Verlosser en Saligmaker. Die mens het ’n gevalle natuur en is tot sonde geneig, maar deur Jesus het daar verlossing gekom en word ons wat tot die einde toe getrou bly aan Hom as eregaste by die bruilofsfees van die Lam ontvang.
Een van die primêre probleme met die evolusieteorie is dat dit die mens as ’n totale irrasionele wese skets, aangesien die mens volgens hierdie teorie ’n blote biotiese wese is. Dit veronderstel ’n wese wat geen bewussyn het nie en dus nie rasioneel kan dink en die komplekse analitiese proses as betekeniskern van logika kan begryp of toepas nie.
Terselfdertyd handhaaf evolusie ’n voor-wetenskaplike verstaan van realiteit en is dit in werklikheid glad nie daartoe in staat om enige uitsprake oor wetenskap te kan maak nie. Dit is ’n geloof en in werklikheid nie ’n teorie nie – dit handhaaf in sy diepste wese ’n hipotese wat op sigself so met kontrasterende eienskappe beliggaam is, dat dit in irrasionalisme verval.
Hiervolgens poog evolusie om die mens tot irrasionele wese te verklaar. Daar is geen regverdigingsgronde vir die aanname wat sommige individue maak waarin hulle aanvoer dat evolusie versoenbaar is met die Christelike geloof nie. Hulle voer aan dat God evolusie gebruik as ’n dominante faktor in die ontwikkeling van spesies. Dit is in direkte stryd met Genesis 1: 11-12, 21,24 en 25 wat duidelik aantoon dat elke spesie volgens hul soort voortbring. Evolusie voer immers die teenoorgestelde aan deur die aanname te maak dat een soort in ’n ander soort kan ontwikkel.
Diegene wat voorstanders van evolusie is, verafgod die mensdom en flirteer met ’n humanistiese beskouing wat aanvoer dat die menslike individu as objektiewe wese funksioneer. Hoe kan hulle hierdie aanname maak wanneer hulle evolusie as ’n geloofsaspek voorhou wat aan hulle die oortuiging bied dat die mens ’n blote biotiese wese is wat aan toeval uitgelewer is?
Evolusie is godslasterlik, want deur irrasioneel met die menslike wese om te gaan word die handewerk van ons almagtige God ontken en word daar ook aangevoer dat God in sy objektiewe ontologiese Wese irrasioneel is. Die mens is na God se beeld geskape en ons rasionaliteit, logika en algemene verstaan en interpretasie van realiteit is gefundeer op die objektiewe deterministiese eienskap van God as almagtige en alomteenwoordige Wese.
Wanneer die mens irrasioneel optree en in die proses subtiel aanvoer dat irrasionalisme ’n vereiste is, voer hy in wese aan dat God irrasioneel is. Dit is uiters lasterlik en bemoei sigself met die konstruering van onlogiese konsep-formasies.
Die mens is logies, rasioneel en analities omdat God na wie se beeld ons geskape is, logies, rasioneel en analities is. Sonder God sou ons nie logiese beredeneringsvaardighede gehad het nie en sou ons woorde en denke niksseggende konstrukte wees wat ’n onlogiese en gefragmenteerde normatiwiteit voorveronderstel.
--------------------------------------------------------------------------
Bron: Strauss, D.F.M. 2009. Philosophy: Discipline of the Disciplines. Grand Rapids: Paideia Press.