“Ek gaan nou doen wat my gramskap eis, Ek gaan nie verskoon nie, nie jammer kry nie. Al roep hulle hoe hard na My, Ek sal hulle nie hoor nie.” (Esegiël 8: 18).
Ons lewe in ’n dag en tyd waar sommige mense hulle individuele voorkeure wil gebruik om God se Woord te verdraai soos dit hulle pas. Hulle wil die objektiewe determinisme van God se Woord en Wese ontken en die Skrif tot iets verklaar wat maar net nog ’n teks is wat oop is vir interpretasie. Hiermee voer hulle subtiel aan dat God in sy Wese geen konsekwentheid het nie en dat hy een dag ’n sekere iets sê en die volgende dag iets heeltemal anders.
In Esegiël 8 lees ons van ’n voorval waar God die Vader vir Esegiël na die tempel neem en vir hom wys watter gruwelike dinge die volk hulself mee besig hou. Ons lees onder andere van sonaanbidding wat die mense in die tempel beoefen, daarmee saam die doktrines van duisternis wat selfs so ver gegaan het dat Esegiël letterlik sien hoe die mense moeite gedoen het om afgodsbeelde te maak wat “allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel...” uitbeeld (Esegiël 8:10).
Hieruit kan afgelei word dat die volk van Israel in afgodediens en demoniese doktrines verval het wat verband hou met die afskuwelike doktrines wat in Babilon en Egipte se okkultiese godsdienste voorgekom het. Die Babiloniërs was veral bekend vir hulle afbeeldings van gode en allerlei hibriede gediertes voor wie hulle gekniel het. Daarmee saam het hulle hemelliggame aanbid en die valse doktrines van sonaanbidding verkondig asof dit die heilige waarheid is.
Wat het dit met vandag te doen? Wel, dit het baie met vandag te doen. Hoewel mense nie meer fisiese beelde maak wat hulle in die kerk indra nie, is daar die subtiele aanbidding van afgode soos geld, status en dan ook die magdom valse doktrines wat in die kerk ingebring word. Die kwessie rondom homoseksualiteit is op ’n slinkse wyse in sommige kerke se geledere ingesmokkel. Hulle benader dit as iets wat nie noodwendig hulle goedkeuring wegdra nie, maar terselfdertyd ook nie vir hulle ’n probleem is nie.
Hulle redeneer dus dat hulle neutraal daaroor is. Volgens die Woord van God is neutraliteit baie problematies in die opsig dat dit presies dieselfde is as om dit wat verkeerd is, goed te keur. In Johannes se skrywe aan die gemeente van Laodisea, sê God vir die betrokke gemeente dat hulle neutraliteit vir Hom ’n gruwel is en dat Hy hulle spreekwoordelik uit sy mond wil spoeg (Op 3: 14-15).
Die kwessie van homoseksualiteit is iets wat ’n prominente rol in sommige dele van die samelewing van antieke Babilon gespeel het. Die Babiloniese “hemelkoningin” (Openbaring verwys na haar as die “sedelose vrou” – sien Op 16), was bekend onder verskeie name, waarvan die bekendste sekerlik Ishtar en Inanna is. Ishtar is in Babilonië beskou as ’n godin wat beide goeie en bose eienskappe gehad het. Sy was omring met homoseksuele mans en vroue en diegene wat gekastreer was.
Die komplekse eienskappe van Ishtar word verder ook aangedui deur die feit dat sy verbind word met ’n hele reeks ander gode soos Tammus, Sin, Shamash en vele ander. Dit is juis vanweë die verbinding met Shamash, wat die aanbidding van Saturnus ook ’n prominente rol gespeel het en vrugbaarheidsgodsdienste al hoe meer kompleks en verwarrend geraak het.
Wanneer homoseksualiteit in ’n kerk verwelkom word, word die hemelkoningin Ishtar van antieke Babilonië vereer. Opvallend hoe Ishtar beide goedheid en boosheid verteenwoordig het en dit is juis wat ons vandag in sommige geledere opmerk: goedheid en boosheid word op postmodernistiese wyse gerelativeer asof albei maar aanvaarbaar is. Ook opvallend om te sien hoe die problematiek van weerspreking en die spanning tussen teenoorgesteldes in die Oosterse mistisisme hanteer word as iets wat glad nie bestaan nie.
’n Mens kan jouself nou tereg bemoei met die vraag: het die Oosterse mistisisme nou ook sommige kerke binnegedring? Asof die Babiloniese okkultisme en promiskuïteit nie alreeds genoeg skade aanrig nie!
Ons Drie-Enige God – Vader, Seun en Heilige Gees – is ’n God van liefde, nederigheid en goedhartigheid. Maar die belangrike feit is dat Hy ’n volmaakte begrip van alles het. Sy begrip van liefde is volmaak en sy liefde en genade is oneindig groot, maar Hy het ook ’n volmaakte begrip van geregtigheid. Na aanleiding van God se geregtigheid word die mens die kans gebied om weg te kom van dwaling en allerlei praktyke van duisternis.
Indien ’n mens nie jou rug keer op die praktyke van duisternis nie, kan God se oordeel jou tref in die vorm wat dit vir Israel in Esegiël 8: 18 tref, waar God so ver gaan as om te sê dat Hy homself nou afsonder en nie verder na hulle gaan luister nie.
God is ’n God van liefde, genade en alles wat goed is, maar Hy is glad nie ’n speelmaatjie wat jy kan rondpluk soos dit jou pas nie. Indien ons nie heilige ontsag het vir sy wet nie, speel ons met vuur. Die kerk wat homoseksualiteit verwelkom, is ’n duidelike waarskuwing dat diegene in daardie betrokke kerk wat nog getrou wil wees aan God, uit daardie kerk moet padgee.
Let hier op Openbaring 18:4 waar God die pertinente waarskuwing uitreik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.”