Evolusie beweer alles het uit niks ontwikkel. Die immanente eienskap van niks is niks. Hoe kan iets uit niks ontstaan? Hiervolgens beweer evolusie verder dat die “big bang” die begin van alles was. Die idee van alles wat as gevolg van ’n reuse ontploffing uit niks uit vorm, is egter in direkte kontras met die aanname dat alles uit niks ontwikkel. Hier weerspreek die evolusieteorie sigself gruwelik. Want so ’n ontploffing voorveronderstel ’n organisatoriese faktor wat as bepalende faktor moet optree ten opsigte van wat presies ontplof het en hoe dit ontplof het. Hoe kan hulle beweer alles kom voort uit niks, indien niksheid geen organisatoriese en bepalende eienskappe beliggaam nie? Wat evolusie in terme van etiek en moraliteit betref kan die vraag tereg gevra word: hoe onderskei die individu tussen reg en verkeerd? En verder: waarop is die begrip van reg en verkeerd gebasseer?
Ateïste beklemtoon dat daar empiriese bewyse moet wees vir alles. Watter empiriese bewyse het hulle vir die “big bang”? Na aanleiding hiervan kan die verdere vraag gevra word: is daar enige empiriese bewys dat 'n mens empiriese bewyse benodig om iets as geldig te identifiseer. In hierdie opsig weerspreek evolusie sigself baie sterk, aangesien dit byna 'n obsessie daarmee het om vir empiriese bewyse te vra, maar het hulle self die bewys dat dit wel die geval is? Ateïste beweer dat waarneming van die buitenste ruimte met behulp van die Hubble teleskoop baie bewyse invorder vir evolusie en die “big bang”. Indien daar deur middel van konkrete waarneming gevind word dat die heelal aan verganklikheid uitgelewer is, hoe verklaar hulle dan dat evolusie sigself weerspreek in terme van die tweede wet van termodinamika? Volgens evolusie is alles aan progressie uitgelewer in die opsig dat alles konstant verbeter. Maar die tweede wet van termodinamika leer dat alles in die heelal aan verganklikheid uitgelewer is: bome word ouer en val om, mense se oë en gehoor verswak, sterre is uitgelewer aan inploffing, die son is stelselmatig besig om uit te brand, om maar net enkele voorbeelde te noem.
Wat die struktuur van atome betref: ’n atoom is die kleinste struktuur in die heelal. Dit bestaan uit 0.00000000000000000001% digtheid en 99.9999999999999999999% leegheid. Die digtheid, ten spyte van hoe enorm klein dit is, is uitgelewer aan presiese beweeglikheid en, ten spyte van die beperkte ruimtelike aspek, ook uitgelewer aan presiese ritme in terme van beweeglikheid.
Dit bring ons terug by die eerste vraag: indien selfs ’n atoom binne sigself presiesheid bevat wat getuig van intelligente ontwerp, hoe kan evolusie beweer dat alles uit niks ontwikkel het?