top of page

[Afrikaans] Psalm 2

00:00 / 03:06

Verse 1

Wat dring en dryf die wilde heidendom, dat volke raas in opgewondenheid? Gedugte konings staan gereed alom, en wêreldgrotes raadslaag vir die stryd, om God almagtig na die kroon te steek en saam teen sy Gesalfde op te staan. Hul sê: ‘Kom nou, laat ons hul bande breek en van hul juk vir altyd ons ontslaan!’

Verse 2

Maar God die HEER van wie die regterstoel bo sterre staan, sien van sy hoogtes neer; Hy lag en spot dat hul so vrugt'loos woel en, magteloos, verniet hul krag verteer. God sal sy wraak laat neerstraal voor hul oog; dan gloei die onweersligte in die lug. Dis God wat spreek! Hy donder van omhoog en jaag sy skrik hul in die aangesig.

Verse 3

’Durf jy dit waag om met my krag te twis? Om uit my hand die Godsgesag te wring, weerstand te bied teen wie almagtig is? Vrees vir my toorn, verdwaasde sterweling! Vergeefs wil jul my heerskappy weerstreef. Ek het my Vors gesalf – wee wie Hom hoon! – op Sionsberg van heiligheid omgeef, waar Hy sal heers vanaf sy hemeltroon.’

Verse 4

En Ek, dié Vors, so hoog in mag en eer, sal Gods besluit die wêreld oor laat klink: ‘Ek self (sê God) het U gegenereer: U is my Seun, uit wie my beelt'nis blink. Ál wat U eis, dit gee Ek U gewis. Sodat u troon vir ewig vas mag bly, gee Ek die volke tot u erfenis en wêreldwydtes tot u heerskappy’

Verse 5

’U sal die trotsaards met u ysterstaf soos erdepotte slaan tot gruis en skerf; U sal, as U u hand oplig tot straf, hul opstandslus tot in die grond verderf.’ O konings, graag gehuldig en geëer - laat nooit u hoogheid Gods Gesalfde hoon! O regters, wat oortreders regstug leer, aanvaar die tug wat u sy liefde toon.

bottom of page