
Verse 1
Welsalig hy wat op die spoor nie gaan waar sondaars lok; wat op hul pad nie staan, of saam sit waar die spotglans in die oog is, waar spotters vrolik spot met al wat hoog is; maar wat Gods wet in stille mymering, bedags en snags weer in gedagt’nis bring.
Verse 2
Hy is 'n boom wat diep en vas geplant, sy wortels uitsprei by die waterkant; en mild versorg deur sagte lentelugte, sy volle drag laat sien van somervrugte. Geen teenspoed wat hom in sy werk sal stuit; wat hy begin, voer hy voorspoedig uit.
Verse 3
So is die sondaar nie; sy aardse tyd is wisselspel en onbestendigheid. Hy is soos kaf aan stormwind prysgegewe; in nietigheid, so eindig hy sy lewe; hy hou nie stand voor God se aangesig wanneer Hy oorgaan tot die strafgerig.
Verse 4
God ken die pad waarop sy volk moet gaan; sy oog is dit wat hulle gadeslaan en met sy lig hul lewenspad bestraal het; maar sondaarspad wat van Hom weggedaal het – dit moet vergaan; onkeerbaar in hul spoed, loop hul oplaas 'n afgrond tegemoet.